Garsoes daal merkbaar na rekordlopie

  • 17 December 2021
  • 1213
  • nuus



Landbou.com berig dat volgens die jongste innamesyfers in die droëland-en besproeiingsgebiede is 238 563 ton gars vanjaar nasionaal geoes. Dit is sowat 120 000 ton minder as AB InBev se mandaat van 359 480 ton. Die jongsste oesskatting beloop 339 800 ton.

Volgens Jose de Kock, voorsitter van Graan SA se garsspesialiswerkgroep, het Suid-Afrika se grootste garsproduksiegebiede teen einde November 190 000 ton moutgraad gars gelewer. Hierdie gebiede is in die Overberg en Suid-Kaap.

Die kleiner oes word toegeskryf aan onder meer die daling in nasionale garsaanplantings van 141 690 hektaar tot 94 730 hektaar. Daarbenewens het die swaar neerslae in Mei die oes meer benadeel as vir ander gewasse.

Daling in die aanvraag na moutgars

Sowat 80% van die gars wat in Suid-Afrika verbou word, word in die bierbrouproses gebruik. As gevolg van die verbod op alkoholverkope om die verspreiding van die koronavirus te beperk het bierverkope, en daarom ook moutgarsverbruik, sedert 2020 skerp gedaal.

Volgens Josh Hamman, direkteur van landbou-ontwikkeling in Afrika by AB InBev, moes gars vanjaar ingevoer word. Hy is egter van mening dat die verwagte wêreldwye garstekort nie ʼn invloed op die land sal hê nie. “Vanjaar was ʼn buitengewoon moeilik jaar vir alle gewasse in die droëlandgebiede, met enorme hoeveelhede reën wat planttyd ontwrig het,” verduidelik Hamman.