Gewasprodusente gemaan oor voorkoms van bruinsprinkane

  • 11 December 2020
  • 1821
  • nuus



Volgens Verdoorn versamel klein tot mediumgroot swerms bruinsprinkane tans in die Sentraal-Karoo terwyl swerms reeds na aangrensende gebiede in die Vrystaat begin versprei. Hy meen dat hoewel die departement van landbou alles moontlik doen om die sprinkane onder beheer te hou, die grootte van die uitbreking kan toeneem soos reënneerslae in die Sentraal- en noordelike Karoo, die Boesmanland, Namakwaland en die suidelike Kalahari voorkom.

Departement van landbou as sentrale rolspeler

Verdoorn verduidelik dat die departement van landbou se doel is om op versamelings sprinkane op die grond te konsentreer, aangesien klein hoeveelhede piretroïed-insekdoders nodig is om hulle te bekamp en skade aan die omgewing te beperk. Hierdie gifstof mag slegs deur die departement aangekoop word en dit is belangrik dat produsente enige uitbreking dadelik by die departement moet aanmeld.

Produsente word aangemoedig om foto’s van sprinkane te neem en dit aan CropLife SA se noodnommer by 082 446 8946 te stuur ten einde identifikasie te vergemaklik en ʼn gepaardgaande beheermetode voor te stel. “Die meeste sprinkaanspesies rig byna geen skade aan gewasse aan nie, en hoef dus nie bekamp te word nie. In die geval van bruinsprinkane is dadelike optrede egter nodig ten einde ʼn rampspoedige uitbreking soos dié in Ethiopië, Kenia, Somalië en Sudan te verhoed,” sê Verdoorn.

Wees op die uitkyk

ʼn Beroep word voorts op alle Suid-Afrikaners gedoen om in die volgende vier maande op die uitkyk te wees vir bruinsprinkane. Indien jy versamelings sprinkane op die grond of vlieënde swerms opmerk, rapporteer dit dadelik by die departement van landbou se sprinkaankantoor in De Aar, deur die volgende nommers te skakel: 053 631 3122 of 053 631 3261.