Is daar nou ‘n El Nino of nie?




El Nino of La Nina ontwikkel gewoonlik in die periode vanaf April tot Oktober en is reeds goed gevestig teen die einde van Oktober en duur dan voort tot die volgende herfs. Die vorige El Nino wat voorgekom het (2015/16) was alreeds teen Julie 2015 goed en sterk gevestig met die Nino-gebiede se oppervlaktemperature alreeds meer as 1.5°C warmer as normaal. Die huidige stand teen die middel van Oktober 2018 was nog steeds op die grens tussen Neutraal en El Nino met die Nino-gebiede maar so ongeveer 0.5°C warmer as normaal.  

Wat hierdie seisoen betref het die opstelling van see-oppervlaktemperature alreeds vanaf midwinter tekens getoon van verwarming en was die voorspelling dat El Nino baie vinnig sou ontwikkel in Augustus en September 2018 maar dit het nie gebeur nie. Die poel van warm water net onder die oppervlakte tot ‘n diepte van ongeveer 250m het redelik staties gebly en nie soos verwag na die oppervlakte gekom nie. Teen middel Oktober 2018 was die warmste water ongeveer 4-6°C warmer as normaal maar steeds op ‘n diepte van ongeveer 150m met oppervlakwater net ongeveer 0.5°C warmer as normaal.

Die huidige gebrek aan ontwikkeling van El Nino kan nou na twee kante gaan: Eerstens El Nino ontwikkeling, alhoewel abnormaal laat, of dit kan tweedens naby aan Neutraal bly. 

Gaan dit dus reën of nie reën nie?

Dit is interessant om te weet dat die tyd van die jaar wanneer El Nino ontwikkel baie belangrik is want dit kan verskillende betekenisse hê. So byvoorbeeld is ‘n El Nino wat Julie/Augustus vinnig en sterk ontwikkel die meeste van die tyd geassosieer met baie goeie vroeë reën vanaf September tot begin November) oor die grootste deel van die Somerreënvalgebied. As dit later ontwikkel byvoorbeeld in Oktober, is dit ‘n baie negatiewe sein vir reën vir die maande na Oktober.  

Wat vanjaar gebeur het is dat daar teen einde Julie ‘n sein begin ontwikkel het wat aandui El Nino gaan ontwikkel en het sekere indekse begin reageer. Die Suidelike Ossilasie Indeks of SOI het aangedui dit is in ‘n vinnig dalende fase, bedoelende dat El Nino begin ontwikkel. Teen einde September was dit weer geklassifiseer as Neutraal, alhoewel baie naby aan El Nino limiete. Hierdie twee fases se reënvalvoorspellings verskil baie groot: Indien El Nino sou ontwikkel soos teen einde Julie aangetoon is, dui dit op ‘n baie goeie kans vir reën terwyl Neutraal/El Nino in Oktober ‘n ondergemiddelde of swak kans aandui. Watter een is nou reg of is dit in die middel tussen die twee? 

Gegewe hierdie verwarrende inligting moet daar ook na ander faktore of indikators gekyk word.  

• Hoe reageer die reënval in die somerreënvalgebied van Australië tot op hede?  Daar is ‘n baie sterk korrellasie tussen die laatwinter- en lentereën in veral Queensland, Victoria en Niew-Suid-Wallis met somerreënval in Suid-Afrika. Dit kan verklaar word indien daar gekyk word na die ligging (breedtegraad sowel as oseane se nabyheid) wat baie ooreenkomste toon. Die grootste deel van Australië het baie min reën gehad en was September 2018 se reënval die swakste op rekord en het die koringoes met byna 35% gekrimp teenoor verlede jaar. Redelike goeie neerslae het egter begin voorkom in die eerste deel van Oktober en lyk voorspellings vir die res van Oktober ook redelik goed.  Dit is egter te laat om die koringoes te red. Dus lyk dit tog asof die sein uit Australië effens minder negatief is as in September.

• Baie swaar reën het oor gedeeltes van Wes-Afrika voorgekom en het ‘n land soos Nigerië ernstige vloede gehad. Die intertropiese konvergensie sone is dus meer oor die westelike dele van die trope as oor die oostelike dele gekonsentreer. Dit is betekenisvol want die tropiese vog beweeg suid-en suidooswaarts en beteken dus dat die konsentrasie van die vog so geposisioneer is dat dit oor Angola,  Namibië en Botswana behoort af te beweeg en nie te ver ooswaarts oor Zambië en Mosambiek nie. Oorstromings in Oos-Afrika in lande soos Tanzanië en Kenia is slegte nuus vir suidelike Afrika en tans is dit nie die geval nie. 

• Verder lyk dit asof die sonvleksiklus ook in ‘n meer positiewe fase vir reënval (stygende aktiwiteit) begin inbeweeg wat beteken dat onderliggend dit meer reënval tot gevolg kan hê in die volgende 3 tot 5 jaar. Dit is onseker hoe ‘n El Nino hierop kan reageer.
  
Gegewe die baie onseker omstandighede lyk die volgende scenario die mees waarskynlikste:

• Die kanse dat El Nino gaan ontwikkel of ten minste êrens in die seisoen El Nino-karaktertrekke kan toon, is baie goed. Dus kan ‘n droë periode verwag word, waarskynlik rondom Desember/Januarie.  

• Redelike goeie neerslae kan oor veral die oostelike dele van die land voorkom rondom November. Tropiese vog begin ook suidwaarts beweeg en koue fronte begin suid van die land verbygaan wat goeie nuus is. Die risiko vir swakker reënvaltoestande is groter na die weste as na die ooste.   
   
• Dit lyk nie asof ‘n groot droogte gaan voorkom nie maar daar kan egter langerige periodes sonder reën en baie warm toestande voorkom. Dit is veral gronde wat nie goeie grondwater opgegaar het teen planttyd of gronde wat nie genoeg water kan stoor nie, wat ‘n groot risiko inhou. Toestande vir vee-produksie lyk beter en veral indien daar teen November goeie reën gaan voorkom. 

• Onderliggend is dit belangrik om hierdie seisoen weer te probeer oorleef, nie snaakste dinge te doen nie en hopelik binne die volgende paar jaar weer ‘n beter reënvalsiklus te beleef.