Jongste misdaadstatistiek skets skokkende realiteit

  • 27 August 2021
  • 1519
  • nuus



Die misdaadstatistieke vir die 2021-2022 boekjaar, vanaf 1 April tot 30 Junie 2021, sien soos volg daaruit.

So lyk die statistieke

  • Veediefstal toon ʼn beduidende afname van 8%.
  • Moorde het met 66,2% toegeneem teenoor die ooreenstemmende tydperk in die vorige boekjaar. Vanaf April tot einde Junie vanjaar is 5 760 Suid-Afrikaners vermoor. Op die keper beskou is dit 2 294 meer moorde as in die ooreenstemmende tydperk in die vorige boekjaar.
  • Statistiek toon dat daar 15 moorde op plase en 119 insidente van roof. ʼn Totaal van 181 aanvalle op plase en kleinhoewes is aangeteken. In die ooreenstemmende tydperk in die vorige boekjaar het 14 moorde op plase voorgekom.
  • Kontakmisdaad wat spesifiek op landbougrond, plase en kleinhoewes plaasgevind het, en wat nie as plaasmoorde beskou word nie, sluit in: 105 sake van moord, 65 van poging tot moord en 383 van aanranding met die doel om ernstig te beseer.
  • Eiendomsverwante misdade het met 6% toegeneem.

Veediefstal

Indien die veediefstalsyfer vergelyk word met die pre-Covid-19-tydperk gedurende die 2019-2020-boekjaar, sou die afname selfs hoër gewees het, naamlik 13,5%.

 Ses provinsies het afnames in veediefstal getoon, met die Oos-Kaap wat die grootste afname toon met 398 minder voorvalle, oftewel 20,7% wanneer daar na die getalle gekyk word. Die Noord-Kaap toon ʼn baie groot persentasiedaling van 41% met 165 voorvalle.

In drie provinsies, naamlik die Vrystaat, KwaZulu-Natal en Mpumalanga, het die voorvalle egter toegeneem.

Volgens Willie Clack, voorsitter van die nasionale veediefstalvoorkomingsforum, moet die statistiek versigtig bestudeer word. Hy twyfel veral oor die feit dat daar in gebiede waar daar altyd relatief baie probleme met veediefstal ervaar word, daar nou, volgens die statistiek, drastiese afnames te bespeur is. Die afname van veediefstal in die Noord-Kaap kan volgens hom ook toegeskryf word aan die droogte en die realiteit dat daar minder vee in sekere gebiede is.

Hy voeg by dat die nie-aanmelding van veediefstal ook ʼn beduidende invloed op die statistiek het.