Kollektiewe Vasteprys Minimumprys-kontrak

  • 10 January 2020
  • 2743
  • nuus



Tonnemaat wat in die produk opgeneem word, word ge - samentlik deur middel van ’n vasgestelde strategie verskans deur die loop van die produksieseisoen. Produsente wat gebruik maak van die Senwes KPK, het dus die voordeel dat die verskansing van hul tonne aktief en objektief benader word deur middel van ’n vasgestelde en deursigtige strategie. Die KPK strategieresultaat oor tyd is aangedui as Strategie 6, wat vervat is in die vorige twee artikels oor verskansingstrategienavorsing.

Die KPK produk kan egter as uiters konserwatief gesien word en daar was heelparty versoeke van produsente om ’n minder konserwatiewe produk as alternatief beskikbaar te stel. Die relevante KVM navorsing het deel gevorm van ’n NWU bedryfswiskunde M-graad studieprojek binne Senwes Grainlink. Die resultate van die studie was uiters insiggewend en die doel van die navorsing was spesifiek om die konserwatiewe aard van die bestaande KPK op ’n sinvolle manier aan te spreek.

Die aspek wat die meeste kritiek teen die bestaande KPK produk tot gevolg het, is die gerealiseerde opsiekoste. Hierdie aspek is veral uitdagend in ’n seisoen waar ’n sywaartse markbeweging nie die terugverkoop van put-opsies toelaat nie, soos in die 2017-2018 produksieseisoen.

Die realiteit dat opsiekoste ’n minder gunstige gerealiseerde KPK prys tot gevolg kan hê in sekere seisoene, is ondersoek. Die beginsels van die KPK implementeringsmodel is grootliks in plek gehou (Sien Figuur 1 met kort verduideliking).



Die groot verskil is dat daar nie noodwendig vir al die tonne wat in die strategie opgeneem is, minimumpryse gekoop word nie. Kombinasies is dus getoets waar daar minimumpryse gekoop word vir slegs 10% tot 90% (gegewe die bestaande KPK is 100% minimumpryse) van die tonnemaat wat opgeneem word in die produk. Die KPK-beginsels word dan geïmplementeer deur eers die onverskanste tonnemaat (% waarvoor nie minimumpryse gekoop is nie) te verskans deur middel van vastepryse, waarna daar oorgegaan word na die aktiewe bestuur van die minimumpryse.

Koop minimumpryse (put-opsies) tydens die plantvenster vir die verwagte produksie. Bestuur die minimumpryse deur opsies gestruktureerd terug te verkoop en vastepryse in hul plek in te neem wanneer die Julie kontrakprys bo die gemiddelde minimumprystrefvlak verhandel. Sodoende word die gerealiseerde verskansingsvlak stelselmatig verhoog en opsiekoste verlaag.

Die resultate van die implementering van die KVM-strategie kan as uiters gunstig beskryf word, afgesien van die tipe seisoen. Produsente kan ’n gerealiseerde prys (na opsiekoste afgetrek is) van min of meer die gemiddeld van die hoof verskansingskontrak oor dieselfde tydperk verwag. Die KVM-skakel val verder sinvol in by die bestaande verskansingsprodukte of kontrakte wat deur Senwes gebied word en het slegs ten doel om die gerealiseerde SAFEX prysgedeelte (na verskansingskoste) van ’n bestaande leweringskontrak daar te stel. Kontak gerus u naaste graanverkryger in verband met die produk, aangesien deelname aan die produk doelgerig binne spesifieke tydperke tydens die produksieseisoen beskikbaar gestel word aan produsente.