Kosinflasie | Gesonde mandjie kos duurder in Augustus

  • 01 October 2021
  • 1254
  • nuus




Dié statistiek maak deel uit van die BFAP Thrifty Healthy Food Basket (THFB)-verslag. Vir die doeleindes van hierdie verslag, bepaal die buro wat die prys van ʼn kombinasie van produkte, verteenwoordigend van al die voedselgroepe, wat ʼn gesin van vier vir ʼn maand sal voed. Ander faktore wat ook ʼn rol speel in hierdie berekening is die nasionale voedingsriglyne, verbruikerspatrone in laer inkomste gesinne, amptelike kleinhandelpryse (soos deur Statistieke Suid-Afrika saamgestel) en, huishoudelike demografiese waardes.

So vaar kositems


Die volgende produkte toon ʼn styging groter as 10% op ʼn jaargrondslag:

  • Piesangs
  • Pampoen
  • Super mieliemeel
  • Varkvleis
  • Ontbytgraan
  • Koringmeel
  • Gevriesde hoenderporsies
  • Pasta
  • Droë bone
  • Margarien
  • Plantolie

Die volgende produkte het ʼn styging van 6,9% en hoër op ʼn jaargrondslag aangeteken:

  • Kool
  • Kouevleis
  • Witsuiker
  • Skaap-en lamsvleis
  • Beesvleis

Bepalende faktore en verwagtinge

Die inflasiekoers was hoër as wat verwag is, en kosinflasie was een van die belangrikste dryfvere hiervan. Op 6,9%, is kosinflasie nou op dieselfde vlak as gedurende 2017.

Vleis

Die belangrikste koskategorie, naamlik die van vleis (10,7%), is ook die produk waaraan verbruikers die meeste geld bestee, dit ondanks die feit dat markontleeders reeds sedert Junie 2021 gemerk het dat verbuikers ʼn weerstand teen hoë vleispryse begin opbou. Slagsyfers het op ʼn maand-tot-maand en jaargrondslag drasties afgeneem en was in Julie byna 8% laer teenoor die voorafgaande maand en 16% laer as in 2020.

Hierdie neiging sal na verwagting tot Augustus oorspoel en ander bydraende faktore sluit in verhoogde veevoer pryse en die uitbreking van bek-en-klouseer in dele van die land.

Die prys van hoender volg 'n opwaartse neiging as gevolg van die styging in internasionale pluimveepryse tesame met 'n verswakking in die wisselkoers.

In die geval van varkvleisprodukte het die slag- en verwerkingsvermoë en infrastruktuurverliese weens die plundering en geweld van KZN bygedra tot verhoogde prysdruk.

Groente, suiker en olie

Nog ʼn voedselkategorie wat 'n beduidende bydrae gelewer het tot die kosinflasie in Augustus, is groente, met 'n inflasiekoers van 5,3%. Dit is opmerklik, aangesien groentepryse in die derde kwartaal van 2020 reeds hoog was en die prys daarom in die konteks van 2021 ʼn selfs hoër basis behoort te hê

Die onderliggende dryfveer van dié verhoogde inflasiesyfer word toegeskryf aan aansienlike verhogings in aartappelpryse, gedryf deur laer volumes as gevolg van die laat rypskade wat die vroeë seisoen aartappels uit Limpopo geraak het.

Die hoër koste van landbou-chemikalieë kan stygende prysdruk op grondstowwe sowel as aartappels en uie veroorsaak, deels as gevolg van verminderde aanplantings. Daar word egter verwag dat, namate die noordelike gebiede van die land in volle produksie kom, die pryse sal verminder en groentepryse verder sal toeneem.

Weersomstandighede in die belangrikste produksiestreke in die komende maande sal 'n belangrike faktor wees om die toekomstige pryspad van groente- en oliepryse wêreldwyd te beïnvloed.

Vir ingevoerde voedselprodukte in die algemeen kan stygende internasionale seevragkostes ook bydra tot kosinflasie.

Die druk op suikerpryse, wat 5,3% hoër is, hou verband met stygende internasionale pryse en die onlangse sosiale onrus in KwaZulu-Natal, wat suikerriet en suikervoorraad tekorte veroorsaak het.

Volgens BFAP sal kosinflasie teen die einde van die jaar meer gematigde vlakke aanneem.