Landbousektor boer straks verder vooruit in 2021




Dit volg nadat Statistieke Suid-Afrika (SSA) onlangs aangekondig het dat die land se bruto binnelandse produk (BBP) gedurende die eerste kwartaal van 2021 beter gevaar het as wat verwag is. Die BBP is 1,1% meer as in die vierde kwartaal van 2020.

So vaar die verskillende sektore

  • Die grootste positiewe bydrae tot groei, van 1,5 persentasiepunte, is deur die finansiële en sakedienste sektore gelewer, met groei van 7,4%.
  • Mynbou het teen 18,1% die vinnigste gegroei en 1,2 persentasiepunte tot die algehele ekonomiese groei bygedra.
  • Die handelsektor, wat spyseniering en verblyf insluit, het teen 6,2% gegroei. Hierdie groei dui op tekens van herstel na die inperkings tydens die tweede vlaag Covid-19-infeksies in Januarie en Februarie vanjaar.
  • Vervaardiging se groei was 1,6% en kan grotendeels toegeskryf woord aan die motorvervaardigingsektor.
  • Die landbousektor het in die eerste kwartaal met 3,2% ingekrimp nadat dit die enigste sektor was wat in 2020 gegroei het.

Redes vir inkrimping in die landbousektor

Volgens Agri SA kan die inkrimping van die landbousektor toegeskryf word aan die laer produksie van akkerbou-en diereprodukte.

“Dit was te verwagte, aangesien die eerste kwartaal van die jaar gewoonlik gekenmerk word deur beperkte landbou-aktiwiteite,” verduidelik Kulani Siweya, hooflandbou-ekonoom by Agri SA. Hy voeg by dat ʼn groot gedeelte van die landbou se BBP in akkerbou gekonsentreer is.

Die seisoenale faktore wat met somer-en wintergewasse gepaard gaan moet ook in ag geneem word. In die geval van somergewasse word daar eers na afloop van die eerste seisoenale reën (ongeveer Oktober) geplant, wat normaalweg voortduur tot in Januarie, met die oesseisoen wat eers in April of Mei ʼn aanvang nee. Net so, word wintergewasse hoofsaaklik in die tweede kwartaal van die jaar aangeplant en dié oeste is nie baie groot in vergelyking met die someroes nie. Wintergrane word ook gewoonlik eers in die derde en vierde kwartaal van die jaar geoes.

“Diereproduksie is ook negatief beïnvloed, weens die voortslepende droogte in sekere dele van die land en siekte-uitbrekings in ander dele,” sê Siweya, maar voeg by dat namate kuddes herbou word ook hierdie subsektor positiewe uitkomste sal lewer.

Uitsonderlike landboujaar

ʼn Uitstekende landboujaar word vir die Suid-Afrikaanse landbousektor in die vooruitsig gestel en alles dui daarop dat vanjaar selfs meer potensiaal inhou as wat die geval in 2020 was.

Hierdie positiewe sentiment word veral toegeskryf aan groot oesverwagtings en ʼn merkbare toename in uitvoersyfers. Die landbou se handelsurplus in die eerste kwartaal van 2021 was $1,4 miljard, terwyl uitvoere met 28% na $2,9 miljard toegeneem het.

Die landbousakekamer Agbiz is baie positief oor vanjaar se vooruitsigte en meen 2021 gaan beslis ʼn beter landboujaar as 2020 wees. Dr John Purchase, uitvoerende direkteur, voorspel groei vanaf ʼn relatief hoë basis op ʼn jaargrondslag van 4% tot 5%. Hy verduidelik dat hoewel groei op ʼn jaargrondslag in 2020 op 13,1% vasgestel was, dit vanaf die lae basis van 2019 bereken is.

Hy besweer onnodige pessimisme in die plaaslike landbousektor en sê dat die sektor tans in 'n relatiewe gesonde posisie verkeer.

Ook Francois Strydom, groep hoof uitvoerende beampte van Senwes, is van mening dat vanjaar alle verwagtinge kan oortref. Hy glo dat die uitvoergeleenthede vanjaar nog groter sal wees as verlede jaar. Die verwagte hoër kommoditeitsvolumes, goeie pryse en die stand van die rand hou volgens Strydom verdere potensiaal vir produsente in.