Maak reg vir nog bibberweer




Volgens Johan van den Berg, ʼn onafhanklike landbouweerkundige, sal die koue toestande voortduur en voorspel hy baie koue toestande wat met swaar ryp gepaard sal gaan vir die middel Junie oor groot gedeeltes van die land. Tot en met 15 Junie is die vooruitsigte vir reën, volgens Van den Berg, ook skraal. 

Die kwik het die afgelope paar dae skerp gedaal en in dele van die Oos- en Suidoos-Vrystaat, asook op die Hoëveld van Mpumalanga, is minimum temperature van so laag as -5° C aangeteken. Die aanvoelbare temperatuur is verder verlaag deur die voorkoms van ʼn sterk wind. Reën het ook wydverspreid oor die res van die land voorgekom.

Van den Berg voorspel dat sterk frontale stelsels vanaf die middel van die maand reën na die Wes-Kaap sal bring, terwyl dit ook reën langs die suid-en ooskus tot so ver as die noordelike kusgebiede van KwaZulu-Natal kan veroorsaak.

Produksietoestande

Die winter het, volgens Van den Berg, goed begin vir die wintergraangebiede. Hy meen die belangrik vraag wat egter gevra moet word, is wat tot die einde van September gaan gebeur. In September is aangeplante grane in ʼn belangrike reproduktiewe stadium en het die plante baie water nodig wanneer die temperature warmer word.