Mededinging in mark vir vars produkte onder die loep

  • 01 April 2022
  • 1004
  • nuus



Dié opdrag vir die ondersoek is in die Staatskoerant (nr. 46093) van 25 Maart 2022 afgekondig.

Volgens ʼn verklaring wat in die verband uitgereik is sal die ondersoek spesifieke aspekte van die boer se verkoop van vars produkte aan klante dek, hetsy kleinhandelaars, verwerkers of die uitvoermark. Die interaksie tussen kleinhandelaars en eindverbruikers, asook voedselverwerkers se verkoop en verspreiding van verwerkte produkte is uitgesluit van die ondersoek.

Die kommissie beskou die ondersoek as noodsaaklik ten einde begrip van die stand van mededinging in die bedryf in te win, die markeienskappe wat prysuitkomste beïnvloed te identifiseer en boere, veral kleinskaalse en opkomende boere, se probleme aan te hoor.

Vier breë temas is geïdentifiseer wat die kenmerke dek wat mededinging of markuitkomste kan belemmer, beperk of verwring, naamlik: die effektiwiteit van die waardeketting, markdinamika en die uitwerking van sleutelproduksiemiddele op boere, klein-en histories benadeelde boere en hul deelname asook versperrings tot toetrede wat verband hou met die regulatoriese omgewing.

Die verklaring stel dit voorts dat die kommissie sedert 2008 voorkeuraandag gee aan die voedsel-en voedselverwerkingsektor omdat dit die bron is van stapelvoedsel en vanweë die sektor se potensiaal om beduidende werksgeleenthede te skep. Laasgenoemde word alom beskou as ʼn aandrywer van inklusiewe ekonomiese groei.