Niks suur aan hersiene suurlemoenprotokol




Dié hersiene sitrusprotokol is onlangs deur Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, onderteken. Die protokol het ses jaar gekos om af te handel en volg op ʼn versoek van die sitrusbedryf dat suurlemoene vrygestel moet word van die regulatoriese vereistes vir valskodlingmot aangesien suurlemoene nie ʼn gasheer vir dié plaag is nie.

Luidens ʼn verklaring deur die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SKV) kan die plaaslike produksie van suurlemoene teen 2024 met 175 000 ton groei en danksy die finalisering van dié protokol sal Sjina as ʼn belangrike nuwe uitvoermark dien.

Op die koop toe sal Suid-Afrika in die proses vir Argentinië en Chili, wat tans die grootste uitvoerders van suurlemoene na Sjina in die Suidelike Halfrond is, verbysteek sodra die nuwe protokol in werking tree. Volgens die SKV word uitvoere teen 2024 op sowat 25 000 ton suurlemoene per jaar na Sjina op die vooruitsig gestel.