Nog neerslae vir April voorspel

  • 22 April 2022
  • 1125
  • nuus



Volgens Van den Berg het daar in ʼn soortgelyke seisoen in 2011 nog swaar reën in die eerste week van Junie voorgekom as gevolg van ʼn afsnylaagdruk oor die noordwestelike en sentrale binneland. Dit het destyds oorstromings oor die westelike dele van die Vrystaat veroorsaak.

Hy verduidelik dat die huidige La Niña-stelsel bly voortduur en dat weermodelle nie ʼn verswakking in die volgende twee maande aandui nie. Die sterk afsnylaagdrukstelsels wat oor KwaZulu-Natal ontwikkel het, is voorts ʼn aanduiding dat die stelsel nog baie sterk is. Laasgenoemde beteken dat die kans op reën volgens langtermynvoorspellings steeds goed is tot ten minste die einde van Meimaand.

Pasop vir koue weer

Van den Berg maan veral kleinveeboere dat saam met die reën van die laaste week van April daar koue toestande oor die somer-en winterreënstreke verwag word. Skerp dalings in temperature word rondom 23 April oor die sentrale en suidelike dele van Suid-Afrika verwag, met ʼn koue front wat die land uit die suidweste gaan tref. Baie koue en nat toestande gaan voorom oor die Suid-en Suidoos-Vrystaat, die suidoostelike dele van die Noord-kaap, die grootste deel van die Oos-Kaap en dele van die Wes-Kaap.

Wat die winterreëngebied betref, word reën rondom 22 en 23 April verwag, met die koue front wat skerp dalings in temperature kan veroorsaak vanaf 23 April. Minimum temperature wat naby vriespunt kan draai, word veral in die hoogliggende gebiede van die Suidwes-Kaap verwag. Verdere reën is ook moontlik oor veral die Suid-Kaap teen einde April en die eerste week van Mei.