Nuwe statutêre heffing vir rooivleis




Hierdie heffing sal in die plek wees van die huidige statutêre maatreëls wat op 4 November verstryk.

Die nasionale landboubemarkingsraad (NLBR) oorweeg die aansoek vir ʼn volgende vierjaartydperk soos versoek deur die primêre groepering vir rooivleis en lewendehawe (RMLPC) bestaande uit die Rooivleisprodusente-organisasie, die abattoirvereniging, SA voerkraalvereniging en die ontluikende rooivleisprodusente-organisasie. Die RMLPC het ook ʼn maatskappy sonder winsbejag, die Rooivleisbedryfsdienste, geskep om die statutêre maatreëls te bestuur.

Voorgestelde heffings

Die voorgestelde heffings volgens die aansoek sal vir die eerste jaar (5 November 2022 tot 4 November 2023) R13 per bees en R2,53 per skaap of bok wees by die slagpunt (BTW uitgesluit). Die jaar daarna sal dit onderskeidelik R13,65 en R2,66 wees, dan R14,33 en R2,79 en in die laaste jaartydperk R15,05 en R2,93 wees.

Die beraamde inkomste van die voorgestelde heffings sal wissel van R42, 2 miljoen vir die eerste jaar toto R50,5 miljoen in die 2025-2026 boekjaar. Hiervan sal 30% gebruik word vir dieregesondheid, openbare gesondheid en biosekerheid – onder meer die stryd teen bek-en-klouseer, naspeurbaarheid en produkveiligheid. ʼn Verdere 15% sal gaan om marktoegang te verbreed en 25% vir mededingendheid en volhoubaarheid, onder meer vir produkontwikkeling, bedryfsinligting, navorsing en verbruikersopvoeding.

Ingevolge die wetgewing oor die bemarking van landbouprodukte met 20% van die inkomste uit die statutêre heffing ook vir inklusiewe groei (transformasie in die ontwikkelende sektor) gaan en 10% mag vir administrasie en bestuur benut word.

Die NLBR wys daarop dat die wetgewing bepaal dat ʼn statutêre heffing nie 5% van die prys by die eerste verkoopspunt mag oortref nie. In die geval van die voorgestelde heffingsbedrae is die heffing op ʼn beeskarkas op 0,11% van die riglynprys bepaal en dié vir skape en bokke op 0,13%. Dit is ver minder as die maksimum wat toegelaat word.

Die raad sê die voorgestelde statutêre maatreëls wat ander aspekte soos registrasie, rekordhouding en verslagdoening betref, blyk ook gereed te wees. Daar sal na die kommentaartydperk aanbevelings aan die minister gedoen word.

* Die artikel het oorspronklik in Landbou.com verskyn.