Oesskatting dui op laer katoenoes ten spyte van rekordpryse

  • 11 February 2022
  • 1034
  • nuus



Internasionaal is die katoenprys tans die hoogste in ʼn dekade en is die afgeleide Suid-Afrikaanse prys van R45 per kilogram vesel die hoogste nog in die plaaslike geskiedenis. Volgens die uitvoerende hoof van Katoen SA, Hennie Bruwer, het hulle nie verwag dat die aanplantings veel meer as die vorige seisoen sou wees nie en daarby het produsente heelwat skade opgedoen moet die volgehoue reën en selfs hael.

Bruwer sê dat produsente in die noordweste bykans die helfte van die geraamde oes weens die baie reën verloor het, terwyl verskeie streke, waaronder die Noord-Kaap, haelskade ervaar het. Die hoop is nou dat daar nie verdere skade sal wees nie en dat die reën nou die opbrengste sal verbeter.

Die verwagte opbrengs vir die huidige seisoen onder besproeiing is 4 245 kilogram per hektaar vesel teenoor die vorige seisoen se 4 650 kilogram per hektaar. Op droëland is die verwagte opbrengs 1 220 kilogram per hektaar teenoor die vorige seisoen se 1 550 kilogram per hektaar.

Op die internasionale mark het Covid-19-verwante ontwrigtings in voorsieningskettings pryse tot bykans rekordhoogtes laat styg. Hiermee saam word die wêreldproduksie op 26,4 miljoen ton geraam, wat 9% meer is as die vorige seisoen weens hoër aanplantings en produksie in Wes-Afrika, Brasilië en Amerika.

Weens probleme met verskeping word vertragings tans ervaar en dit voorspel probleme vir lande wat groot verbruikers is. ʼn Gebrek aan beskikbaarheid tesame met die hoë pryse wat tans geld, kan ʼn verskuiwing veroorsaak van katoen af na mensgemaakte vesel soos poliëster, wat op die oomblik meer as 80 Amerikaanse sent per pond goedkoper is.