Pandemie-kwartaal uitslae: diagnose nie goed vir SA ekonomie

  • 10 September 2020
  • 2357
  • nuus



Alhoewel Suid-Afrika reeds voor die koms van die koronaviruspandemie in ʼn resessie was, verteenwoordig die pas vrygestelde statistiek die ergste inkrimping sedert 1960. Op die keper beskou, het die verskillende sektore, vergeleke met die eerste kwartaal van 2020, as volg gevaar:

Die primêre sektor toon ʼn daling van 59,1%, met die mynbousektor wat die swaarste getref is met ʼn daling van 73,1%. Die sekondêre sektor toon dalinge van 74,9% in vervaardiging, 76,6% in konstruksie en 36,4% in elektrisiteit. As dit kom by die tersiêre sektor, is ʼn daling van 40% aangeteken met verliese in die vervoersektor van 67,6% gevolg deur persoonlike dienste met 32,5% en finansiële dienste met 28,9%. Die vorige drie kwartale se groei was vasgestel op onderskeidelik -0,8%, -1,4% en -1,8%.

In reaksie op die inkrimping het President Cyril Ramaphosa gesê Suid-Afrikaners moet alles in hul vermoë doen om te help om die ekonomie te herbou. Volgens die president sal ʼn plan vir ekonomiese herstel eersdaags, na samesprekings met die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac), aan hom voorgehou word.

Georganiseerde landbou speel ʼn beduidende rol

Die landbousektor het in die tweede kwartaal met 15,1% gegroei en het bewys dat die sektor nie net veerkragtig is nie, maar ook ʼn meer beduidende rol in die ekonomie kan vervul. Die sektor is tydens die aanvang van die koronaviruspandemie in Maart as ʼn noodsaaklike diens verklaar.

Christo van der Rheede, adjunk-uitvoerende direkteur van Agri SA, het in ʼn onderhoud na die bekendmaking van die verslag gesê dat die sektor meer as net ʼn skouerklop verdien. Volgens hom kan die sukses van die sektor toegeskryf word aan professionele bedryfspraktyke, bogemiddelde oeste en die internasionale gewildheid van plaaslike produkte. Hy meen verder dat kundigheid en ervaring sal help om die waardeketting verder te vestig en te ontwikkel ten einde voortgesette groei en inklusiwiteit te verseker.

Intussen het Corné Kruger, die Senwes Groep se hoof finansiële beampte, aangedui dat die maatskappy ʼn goeie eerste kwartaal agter die rug het. Hy is voorts opgewonde oor die vooruitsig van ʼn goeie jaar, veral in terme van die maatskappy se meganisasie-, graan- en insetbesigheid.