Rooivleisbedryf maan teen longontsteking




Die voorkoms van baie wind, stof en die groot wisseling in dag-en nagtemperature skep ʼn gunstige omgewing vir hierdie komplekse siekte, terwyl verskillende siekteveroorsakende organismes voorts primêr en sekondêr meewerk om longontsteking te veroorsaak.

In die jongste uitgawe van die RPO se Rooivleis-tydskrif fokus dr Danie Odendaal op dié siekte met spesifieke verwysing na die noodsaaklikheid van inenting, vroeë waarneming en die korrekte behandeling.

Dr Odendaal verduidelik dat longontsteking hoofsaaklik voorkom wanneer die dier se vermoë om weerstand teen die siekte te bied onderdruk word. Dit is egter belangrik om kennis te neem dat wanneer die siekte voorkom, dit amper nooit net ʼn enkele dier aantas nie, maar as ʼn uitbreking in die hele kudde voorkom. Wanneer so ʼn uitbreking voorkom is dit egter te laat om diere in te ent wat nog nooit voorheen teen die siekte geënt is nie.

Die aanslag teen longontsteking is tweeledig: inenting en/of vroeë doeltreffende behandeling.

In die geval van inenting moet diere vroegtydig aan die begin van die winter ʼn inenting of skraaginenting toegedien word ter versterking van die diere se immuunstelsel. Hierdie “heraktivering” van die dier se immuunstelsel stimuleer die vorming van hoë vlakke van aktief sirkulerende teenliggaampies in die bloed wanneer die dier geïnfekteer word en sodoende word die siekteveroorsakende organismes geneutraliseer.

Alhoewel inenting nie die algehele voorkoms van die siekte kan stuit nie, dra dit daartoe by om die dier se weerstand te verhoog en longskade te beperk.

Dit is belangrik dat produsente die regte entstof of ʼn kombinasie van entstowwe sal gebruik. Omdat daar ʼn groot aantal entstowwe en entstofkombinasies teen longontsteking beskikbaar is, word produsente aangeraai om hul veearts te raadpleeg.

Die tydsverloop tussen die aanvang van die siekte en die behandeling daarvan speel ʼn kardinale rol in die suksesvolle behandeling van longontsteking én die behoud van die dier se produksievermoë nadat herstel plaasgevind het. Om dié rede is daaglikse waarneming noodsaaklik om voortydig diere wat siektetekens toon wat met longontsteking verbind kan word, te laat ondersoek. Volgens dr Odendaal is daar groot verskille tussen die tipes inspuitbare antibiotiese produkte wat oor die toonbank en op voorskrif van ʼn veearts beskikbaar is, en produsente moet hulself deeglik van hierdie verskille vergewis ten einde die siekte suksesvol te behandel.