Ruvasa | Toestande gunstig vir die uitbreking van slenkdalkoors




Só meen dr Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa) na aanleiding van die organisasie se maandelikse verslag oor die voorkoms van veesiektes. Volgens Malan is panne, damme en vleie oral tot boordens toe voel en dit skep omgewingstoestande wat gunstig is vir die uitbroei van muggies en muskiete, wat virussiektes soos slenkdalkoors, bloutong, Wesselsbronsiekte, Afrika-perdesiekte, drie-dae-stywesiekte en Wesnyl-koors veroorsaak.

Die slenkdalkoorsvirus tas skape, bokke, beeste en selfs buffels aan, en omdat SDK ʼn Soönose is, kan mense ook besmet raak. Besmetting van mense vind hoofsaaklik plaas wanneer hulle siek of dooie diere hanteer, en daarom word dit as ʼn aanmeldbare siekte geklassifiseer.

Inenting en entstowwe bied beskerming

Produsente word aangeraai om hul diere so gou as moontlik in te ent in ʼn poging om die siekteverspreiding te voorkom. Verskeie geregistreerde produkte is ook beskikbaar om muskietbyte te verhoed, en sluit dippe, spuitmiddels en opgietmiddels, waarin die aktiewe bestanddeel deltametrien voorkom, in.

Siektetekens by vee

Lammers en bokkies onder die ouderdom van twee weke is baie vatbaar en hulle word binne 24 tot 72 uur na besmetting siek. Siektetekens sluit in ʼn hoë koors, lusteloosheid en ʼn gebrekkige eetlus.

Ander simptome sluit in: traagheid om te loop, buikpyn, vinnige asemhaling, naarheid, slegruikende diarree en soms ook geelsug. Dragtige ooie aborteer en die geaborteerde fetus onbind vinnig.