SA landbou in fantastiese posisie – Francois Strydom




Met dié woorde het Strydom onlangs die podium betree tydens die aankondiging van Agri Noordwes se Jongboer van die Jaar-geleentheid. Hy het sy openingstelling verder verduidelik deur te vermeld dat Suid-Afrika gedurende 2020 te midde van die Covid-19-pandemie die tweede grootste uitvoerjaar – in randwaarde, in die geskiedenis beleef het. Hierdie gebeurtenis in landbou het, net soos in 1994 toe die grootste uitvoerjaar ooit aangeteken is, die land help stabiliseer deur die daarstelling van veilige, voldoende en bekostigbare voedsel.

Hy glo dat die uitvoergeleenthede vanjaar nog groter sal wees as verlede jaar en is optimisties oor die uitvoere van sitrus, druiwe, appels, pere en graan. Die verwagte hoër kommoditeitsvolumes, goeie pryse en die stand van die rand hou voorts verdere potensiaal vir produsente in.

“Ons het uitnemende produsente met uitnemende produksievermoë en dit lê nou in die hande van jong produsente,” meen Strydom en voeg by dat ʼn boerdery nie in een geslag ontwikkel word nie, maar eerder oor geslagte heen gebou en verbeter word. “Ek is seker daarvan dat ons gaan terugkyk na die tydperk 2020 tot 2030 as die dekade wat die heel belangrikste nog ooit uit ʼn monetêre oogpunt was,” voorspel Strydom en voeg by dat daar ongelooflike geleenthede bestaan as produsente dit nou kan benut.

* Wernich Lemmer, ʼn mielie-en-beesprodusent van Hartbeesfontein is tydens die geleentheid as Agri Noordwes se Jongboer van die Jaar vir 2021 aangewys. Die ander finaliste in die kompetisie was Christo Greyling van Agri Sannieshof en Andries Coomans van Agri Excelsior.