SA Suiwelkampioenskappe lok honderde inskrywings

  • 04 March 2022
  • 1090
  • nuus



Noukeurige proses onderskryf deur bedryf

"Daar is goeie redes hoekom 68 vervaardigers vanjaar soveel as 920 suiwelprodukte vir die kampioenskappe ingeskryf het," sê Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo.

"Hierdie kompetisie word met groot noukeurigheid en deursigtigheid saamgestel en daarom word dit volkome onderskryf deur die bedryf," sê Ehlers. "Agri-Expo, as onafhanklike organiseerder sedert 1834, bestuur die proses agter die skerms – van die aanlyn-inskrywings, die klasindelings, die koueketting van produkte van reg oor die land, die saamstel van beoordelaarspanele, die beoordelingproses en die ouditkomponent daarvan, tot die uiteindelike bekendmaking van die wenners."

Volgens Ehlers skep die beoordeling die nasionale maatstaf waarvolgens groot én klein vervaardigers, van internasionale maatskappye tot kleinkaasmakers, hulself jaarliks teen mekaar meet.

Verbetering in gehalte positief vir bedryf

Die beoordelingsproses, onder leiding van die hoofbeoordelaar Alan Fourie, het vanjaar ʼn span van 30 beoordelaars ingesluit. Hierdie beoordelaars het per dag meer as 100 klasse vir kaas, botter, jogurt, maaskaas, roomys, gegeurde en aangesuurde melk, suiwelnageregte, suiweldoopsouse, melk, en room beoordeel.

Die beoordeling het drie fasette van sensoriese evaluering behels, naamlik geur en smaak, voorkoms, asook samestelling en tekstuur.

Fourie sonder verbetering in produkgehalte uit as 'n hoogtepunt van vanjaar se beoordeling. "Net die beste van die beste van elke vervaardiger word ingeskryf en dit is verblydend dat die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf jaar na jaar presteer."

Volgens Fourie is die kampioenskappe een van die enigste kompetisies ter wêreld wat vyf beoordelaars per kategorie gebruik. "Vanjaar was meer as 'n kwart van die beoordelaars 'n nuwe span wat beteken dat die kampioenskappe 'n leerskool is waar mense uit die bedryf aan die hele omvang van suiwelprodukte blootgestel word. Hulle vind dit leersaam en strategies waardevol vir produkontwikkeling en innovasie."

SA Suiweltoekennings hibried aangekondig

Die wenner in elke klas word as SA Kampioen bekroon, terwyl produkte van besonderse hoë gehalte ook die Qualité-merk ontvang, wat as die enigste merk van gehalte vir suiwelprodukte in Suid-Afrika erken word. 'n Paneel van vyf kundiges wys die Produk van die Jaar aan.

Die SA Kampioen-, Qualité- en Produk van die Jaar-wenners word op Vrydag 25 Maart 2022 tydens die Suid-Afrikaanse Suiweltoekennings by Cavalli Estate in Stellenbosch aangekondig. Belangstellendes kan inskakel by www.cheesesa.co.za/sa-dairy-awards vir 'n hibriede aanbieding.