Samesmelting verseker wyer voetspoor en voortgesette diensverskaffing

  • 28 August 2020
  • 2277
  • nuus



Op sy beurt het Dr Herman van Schalkwyk, Hoof Uitvoerende Beampte van Suidwes, gesê dat die maatskappy opgewonde en baie entoesiasties is oor die toekomstige vooruitsigte wat hierdie transaksie met Senwes sal ontsluit. Dit sluit ondermeer in ‘n nuwe waardetoevoegende waardeproposie.

Die Mededingingstribunaal het op 18 Augustus 2020 Senwes se samesmelting met Suidwes goedgekeur, onderhewig aan streng voorwaardes. Dit sluit onder meer in dat die twee samesmeltende partye sekere graansilo’s verkoop en drie jaar lank jaarliks produksielenings van R20 miljoen aan swart boere verskaf.

Aanloop tot die samesmelting

‘n Gesamentlike aankondiging in Februarie vanjaar het die twee agri-maatskappy  se intensie om saam te smelt bekend gemaak, en die Mededingingskommissie, wie se werk dit is om groot samesmeltings te ondersoek en ‘n aanbeveling aan die Mededingingstribunaal te doen, het aanvanklik aanbeveel dat die samesmelting voortgaan.

Kort daarna is die aanbeveling egter verander na ‘n verbod op samesmelting. Die Mededingingskommissie het aangevoer dat die transaksie mededinging aansienlik sou verminder of selfs verhoed. Gevolglik sou ‘n monopolie in twee van drie geïdentifiseerde geografiese market in Noordwes geskep word, wat graanopberging betref.  Daar is voorts aangevoer dat die samesmelting waarskynlik tot ‘n verhoging in die opbrengings- en hanteringskoste by silo’s van ‘n gesamentlike maatskappy sou lei.

Die twee samesmeltende partye het hierdie aanbevelings teengestaan en die komissie se teorieë oor die skade aan mededinging ten strengste verwerp en voorgestel dat die transaksie aan sekere voorwaardes voldoen. Dit is hierdie voorwaardes wat die grondslag gelê het vir die tribunaal se besluit.

Voorwaardes

Na deeglike beraadslaging het die tribunaal se beslissing die volgende voorwaardes gestipuleer:

  • Disinvesteringsvoorwaarde

    Dat beide die maatskappye disinvesteer van sekere silo’s in sogenaamde oorvleuelende gebiede aan ‘n toepaslike derdepartykoper binne ‘n spesifieke voorgeskrewe tyd. Hierdie gebiede sluit in: Jan Kempdorp (Senwes), Strydpoort (Suidwes) en Womaransstad (Suidwes). Die proses sal op kommersiële voorwaardes geskied, onder die toesig van ‘n onafhanklike trustee.

  • Silotariefvoorwaarde

    Die differensiaal tussen Senwes en Suidwes hanterings- en opbergingstariewe by silo’s bly onveranderd vir ‘n tydperk van vyf jaar, tensy belegging in tegnologie en verhoogde effektiwiteit van die silo’s andersins bepaal.

  • Voorwaarde met betrekking tot publieke belang

Senwes sal produksielenings van R20 miljoen per jaar aan opkomende boere verskaf, ooreenkomstig sy kredietbeleid, vir ‘n periode van drie jaar. Hierdie lenings sal R60 miljoen in totaal beloop.  Verder, onderworpe aan sekere kwalifiseringskriteria, sal die meerderheid Suidwes-werknemers in diens gehou word vir ‘n periode van twee jaar.

Vir meer inligting besoek www.senwes.co.za