Senwes breek nuwe grond met splinternuwe toep




Die toep, wat op Vrydag, 14 Mei 2021, by die groep se hoofkantoor in Klerksdorp bekend gestel is, span die kroon op meer as 15 maande se intensiewe beplanning-en ontwikkelingswerk en baan die weg vir die groep se volgende innoverende en impakvolle hoofstuk as ʼn rolspeler in die Suid-Afrikaanse landbouwaardeketting.

Die toep vervul meer as net ʼn bemarkingsfunksie en poog om groter wisselwerking tussen die groep van maatskappye en sy bestaande en potensiële klantebasis te verseker terwyl dit ook ʼn daaglikse raakvat geleentheid vir die Senwes handelsmerk is.

Volgens Francois Strydom, groep hoof uitvoerende beampte, spreek die toep voorts tot die groep se verbintenis tot innovasie, digitalisering en vernuwing. “By Senwes stel ons onsself die toekoms voordurend voor, sodat ons as ʼn agri-besigheid die toekoms daagliks vir ons klante op die voorgrond kan stel,” sê Strydom.

Toep hou baie voordele in

Behalwe vir die feit dat inligting rakende gebeure in die groep en die landbousektor nou intyds gedeel kan word, sal die toep gebruikers voorts in staat stel om hulself van nuwe produkreekse, afslagaanbiedinge, markpryse en dienste te vergewis.

Toegang tot hierdie funksionaliteit word moontlik gemaak deur die OneAgri-platform en gebruikers sal via hierdie platform registreer.

Ander kenmerke sluit in:

  • Die verpersoonliking van jou toep, deur die aanteken van jou persoonlike voorkeure.
  • Intydse kennisgewings.
  • Toegang tot jou Senwes rekeninginligting.
  • Daaglikse markpryse.
  • Beskikbare vakante poste.
Die toep kan gratis via die Apple App Store: https://apple.co/3uP0Y5n of Google Play Store: https://bit.ly/33VybAx afgelaai word.