Senwes en Agri Securitas slaan saam af vir landelike veiligheid

  • 26 November 2021
  • 1367
  • nuus



Vanjaar se gholfdag, waarvan die baan uitverkoop was, is by die prentjiemooi Pecanwood Gholfbaan en Buiteklub in Hartbeesfontein aangebied.

Die doel van die dag was om fondse te in vir die Agri Securitas Trustfonds. Dié fonds bied geldelike ondersteuning aan veiligheidsprojekte op distriksvlak oor Suid-Afrika heen deur hulpmiddels te mobiliseer en te kanaliseer.

Volgens Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van Agri SA, het die fonds die afgelope jaar ongeveer R4,8 miljoen aan verskeie landbou-unies uitbetaal ten einde te help verseker dat boere, hul plaaswerkers en landelike gebiede beveilig word. In 2019 en 2020 is onderskeidelik R3,3 miljoen en R3 miljoen aan provinsiale landbouverenigings beskikbaar gestel vir veiligheidsprojekte.

“Ons is gemotiveer om nie net teen die probleem van landelike misdaad vas te kyk nie, maar eerder om oplossings te soek,” het Van der Rheede gesê en genoem dat inisiatiewe soos die jaarlikse gholfdag een van die kreatiewe maniere is waarop daar na ʼn werkbare oplossing vir die befondsingsuitdaging gesoek word.

Ondersteuning aan veiligheidsprojekte

Volgens Van der Rheede het die trustfonds sedert 2017 reeds 105 projekte help befonds op boereverenigingvlak en is 6 000 boere en ongeveer 100 000 plaaswerkers in die proses bygestaan.

ʼn Toename in die aansoeke om hulp word egter ervaar, veral in terme van die installering van kamerastelsels in landelike gebiede. Hierdie tegnologie maak dit moontlik om verdagte beweging te monitor, die polisiediens by te staan in die identifisering van misdadigers en dien selfs as ʼn vroeë waarskuwingstelsel in die geval van veldbrande.

Veiligheidsprojekte op grondvlak waarvoor befondsing aangevra word, behels ook die beskikbaarstelling van landelike veiligheidstoerusting soos nagsigtoerusting en koeëlvaste baadjies terwyl traumaberading aan slagoffers van plaasaanvalle ook befonds word.

* Senwes ondersteun Agri Securitas reeds vanaf die trustfonds se ontstaan in 1999.