Senwes en bedryfsleier Outsurance gesels strategie

  • 27 August 2021
  • 1302
  • nuus



Hierdie besef is ook ʼn realiteit in die besigheidswêreld.

Die enigste manier om hierdie onsekerheid aan te spreek is, volgens Francois Strydom – Groep Hoof Uitvoerende Beampte van Senwes, is om strategies fiks te wees. Om dié rede het die bestuursgroep van Senwes ʼn tyd gelede besluit om gereelde gespreksessies met verskeie Suid-Afrikaanse besigheidslui te voer, om nie net verhoudinge op te bou en te versterk nie, maar ook om ʼn vinger op die plaaslike besigheidspols te hou.

Die mees onlangse gesprek was met Danie Matthee, Hoof Uitvoerende Beampte van OUTsurance, en ja almal betrokke het – soos die OUTsurance slagspreuk sê, iets daaruit gekry!

Die OUTsurance-storie

OUTsurance is in 1998 in die lewe geroep deur Willem Roos, René Otto en Howard Aron en na 23 jaar in die versekeringsbedryf word dié besigheid steeds as ʼn pionier in die finansiëledienstesektor beskou.

Vandag is die maatskappy se groen en pers korporatiewe kleure alombekend en almal, selfs diegene wat nie by OUTsurance verseker is nie, weet van die OUTbonus kontantterugbetalingskema en die verkeersmanne (en -vroue) wat verkeer in besige areas reguleer.

Wat baie mense egter nie weet nie, is dat die maatskappy ook ʼn internasionale voetspoor in Australië en Nieu-Seeland geniet. Die maatskappy bied voorts ʼn reeks omvattende versekeringsprodukte, wat motorversekering, huisinhoudversekering, geboueversekering, besigheidsversekering en selfs troeteldierversekering insluit.

 Besigheidslesse

Matthee verduidelik dat die maatskappy se besigheidsfilosofie daarop geskoei is om anders na besigheid te kyk. Prakties beteken dit dat die maatskappy besigheid doen deur die middelman uit te sluit, gesofistikeerde onderskrywingstelsels te ontwikkel en die kliëntervaring te verbeter.

Sterk stelsels, wat deur die maatskappy self ontwikkel word, rugsteun hierdie bedrywighede.

As dit kom by strategie, meen Matthee dat drie konsepte van uiterste belang is, naamlik:

  • OUTsurance is ʼn mark ontwrigter, wat daartoe bydra dat die maatskappy nie net nog ʼn versekeraar is nie.
  • Besigheidsprosesse is eenvoudig en daarom is dit makliker vir kliënte om die produkte te verstaan en vind hulle die prosesse gerusstellend.
  • Die maatskappe se waardes word in sy dienslewering weerspieël.

Besigheidslesse wat Matthee met die lewe van die Senwes bestuursgroep gedeel het, sluit in:

  • Die waarde van kultuur in ʼn besigheid kan nie onderskat word nie. Hy reken dat kultuur die spreekwoordelike goue draad is wat dwarsdeur alle besigheidsaspekte loop.
  • Besighede moet na hul sterkpunte speel en nie swig onder die druk om drasties te diversifiseer nie.
  • As iets nie werk nie, laat vaar dit. Fokus jou hulpbronne op dit waarmee jy vertroud is en wat goeie resultate lewer.
  • Eienaarskap is belangrik, veral van senior bestuur.
  • Toerekeningsvatbaarheid is die ruggraat van enige maatskappy.
  • Doen elke dag méér.

In terme van tegnologie en digitalisering meen Matthee dat dit nooit ʼn een of die ander oorweging sal wees nie, maar dat tegnologie eerder as deel van ʼn gekombineerde besigheidsbenadering ingespan moet word.

In die geval van OUTsurance word prys en dienslewering grotendeels digitaal gedryf, maar vertroue en gemoedsrus word bevorder deur menslike interaksie.

* Besoek www.senwes.co.za vir meer inligting oor die gesprekreeks. Gesprekke is reeds met Michael Cathie (Nando’s SA), André de Ruyter (Eskom) en Coen Jonker (TymeBank) gevoer.