Senwes Equipment skitter tydens John Deere-toekenningsgeleentheid

  • 03 December 2021
  • 1282
  • nuus



Met die ondersteuning van John Deere se kundige personeel kan boere John Deere se gesofistikeerde masjinerie ten volle benut om die meeste uit elke hektaar waarop geboer word, te haal.

John Deere glo in aanhouer wen en ondanks die uitdagings van die afgelope twee jaar, het die John Deere-span van Senwes Equipment soos altyd hulle merk in die bedryf gelaat.

Toekenningsgeleentheid

Die verhoog was gereed om erkenning te gee aan die bestes in die bedryf met die jaarlikse John Deere-toekenningsgeleentheid. Die geleentheid is by Raddison Hotel en Konferensiesentrum in Kemptonpark gehou en deelnemers en aanspraakmakers het van regoor Suid-Afrika opgedaag.

“Dit is die mense van John Deere wat die verskil maak en sorg dat groen die kleur van gehalte en diens aan landbou is,” was Jaco Beyers, besturende direkteur, John Deere Afrika Midde Ooste, se woorde by vanjaar se John Deere-toekenningsgeleentheid.

Beyers sê dit is vir John Deere belangrik dat ’n boer nie ’n John Deere-aankoop as ’n uitgawe moet sien nie, maar as waardetoevoeging tot sy boerdery. Die span van John Deere, vanaf die verkoopspersoon, die sakespan in die kantoor wat die boer se finansieringsaansoek hanteer, tot die tegnici en onderdelekundiges wat naverkoopdiens moet lewer, is almal daar om te help om waarde toe te voeg.

Tegnikus van die Jaar

Na ’n taai stryd is die Top Vyf Tegnici waaruit die wenner gekroon moet word, aangewys.

Albert Landman van Senwes Wolmaransstad, Arno Bornman van AFGRI Polokwane, Tiaan Oosthuizen van AFGRI Polokwane, Izak de Lange van AFGRI Delmas en Matthew King van Senwes Bothaville het deurgedring na die finale rondte.

Die top drie wenners was: Tiaan Oosthuizen (1ste plek), Arno Bornman (2de plek) en Albert Landman (3de).

Werkswinkel van die Jaar

In die derde plek is Senwes Hoopstad aangewys, AFGRI Middelburg was tweede en die Werkswinkel van die Jaar is AFGRI Bethlehem.

Top John Deere-verkopers

John Deere se mikpunt jaar na jaar is om sy markaandeel vir groot en klein landboutoerusting te vergroot. Die uitdaging aan die tophandelaars is om dit van die vorige jaar se persentasie­punt verder te verhoog.

Die topverkopers van klein land­boutoerusting is Wessel Visagie van Senwes Wesselsbron in die eerste plek, Peet Vorster van AFGRI Delmas in die tweede plek, en in derde plek Eddie Fryer van Senwes Hartswater.

In die kategorie van topverkopers van groot landboutoerusting was Kwek Dietrichsen van Senwes Hoopstad die wenner, Peet Vorster was hier ook tweede en André Botha van GWK Douglas het die derde plek behaal.