Senwes geloof vir besigheidsvolhoubaarheid

  • 04 December 2020
  • 1943
  • nuus



ʼn Afvaardiging van PwC het onlangs by Senwes se Hoofkantoor in Klerksdorp aangedoen om hul gelukwensing aan lede van die senior bestuurskorps oor te dra. Die afvaardiging het bestaan uit Liesbeth Botha (PwC Afrika: Digitale Leier), Connie Hertzog (PwC Sentrale Streek: Leier), Louis Rossouw (PwC Sentrale Streek: Ouditleier) en Andrew Dale (PwC Sentrale Streek: Noordwes-leier).

111* Nie uit nie!

“Vir ʼn agri-besigheid om na 111 jaar steeds relevant te wees, is ʼn merkwaardige prestasie,” sê Hertzog en voeg by dat dié prestsie tot die dinamiese aard van Senwes se besigheidstrategie spreek.

Hy het aan die hand van die nie uit nie-beginsel in krieket, verduidelik dat Senwes “nog lank nie klaar” gegroei het nie, en daarom nog vir die voorsienbare toekoms ʼn impak sal lewer. Hierdie impak verwys nie net na die groep se verbintenis tot oplossingsgedrewe uitkomste nie, maar ook sy rol as ekonomiese katalisator.

“Dit is vir PwC se Sentrale Streek belangrik om erkenning te gee aan suksesvolle besighede soos Senwes, omdat diesulkes bydra tot ekonomiese groei en volhoubaarheid,” verduidelik Hertzog. Hy meen voorts dat langdurigheid ʼn kern beginsel vir sukses is, veral in vandag se uitdagende besigheidswêreld. “Senwes is ʼn sprekende voorbeeld van hoe langdurigheid ʼn besigheid kan help om krisisse soos die Covid-19-pandemie, en ander uitdagings, nie net te oorkom nie, maar selfs daaruit te groei.”

Almal speel ʼn rol

In reaksie op die erkenning van PwC, sê Francois Strydom, Groep Hoof Uitvoerende Beampte, dat Senwes daarna streef om altyd sy waardeproposisie en langtermynvisie klantgerig te hou. Op hierdie manier verseker die maatskappy dat hy sy verantwoordelikheid teenoor klante, aandeelhouers en die groter landbougemeenskap nakom.

“Almal in die maatskappy het ʼn belangrike rol om te vervul, en saam maak ons ʼn verskil,” sê Strydom, en skryf die langtermyn sukses van Senwes toe aan geslagte van toegewyde personeel, besigheidsvennote, klante en aandeelhouers.

“As agri-maatskappy kan jy nie net ʼn balansstaat in jou jaarverslag wys nie. Dit is maar net ʼn resultaat en nie die dryfveer agter wat ons doen nie. Ons geïntegreerde sakemodel het dit ten doel om voedselsekerheid in Suid-Afrika te help bewerkstellig en op die keper beskou, is ons visie daarop geskoei om ʼn verskil in mense se lewens te maak,” verduidelik Strydom.


Die beeldhouwerk van ʼn perd, is van kiaatdryfhout en is deur Joseph Chikwenhere geskep.