So lyk voorlopige oppervlakteskatting vir somergewasse

  • 05 February 2021
  • 1770
  • nuus



Dié oppervlakteskatting is gebaseer op die resultate van ʼn nie-ewekansige opname deur die Departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling. ʼn Hersiene aangeplante oppervlakte- en produksiesyferskatting sal op 25 Februarie deur die Oesskattingskomitee voorgelê word. Hierdie skattings sal inligting vanaf die ‘PICES’-opname, wat in die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo, Gauteng en Noordwes gedoen is, bevat.

Kommersiële mielies

Die voorlopige skatting van die oppervlakte onder mielies beloop 2,776 miljoen hektaar, wat 6,35% of 165 700ha meer is as die 2,611 miljoen hektaar wat verlede seisoen aangeplant is. Dié skatting is voorts ook 1,11% of 30 500ha meer as aangetekende voorneme van 2,746 miljoen hektaar wat in Oktober 2020 aangekondig is.

Voorlopig word die oppervlak onder witmielies op 1,702 miljoen hektaar geskat. Hierdie verteenwoordig ʼn toename van 5,27% of 85 200 hektaar op die 1,616 miljoen hektaar van die vorige seisoen. In die geval van geelmielies beloop die oppervlakteskatting ongeveer 1,075 miljoen hektaar, wat 8,09% of 80 500 hektaar meer is as die 994 500 hektaar wat tydens die vorige seisoen aangeplant is.

Sonneblomsaad

Die voorlopige oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 473 300 hektaar, wat 5,40% of 27 000 hektaar minder is as die 500 300 hektaar wat tydens die vorige seisoen aangeplant is.

Sojabone

Die geskatte oppervlakte onder sojabone is 806 000 hektaar, wat ’n toename van 14,33% of 101 000 hektaar verteenwoordig in vergeleke met die 705 000 hektaar wat gedurende die vorige seisoen geplant is. Hierdie skatting verteenwoordig die grootste oppervlakte onder sojabone in die geskiedenis van Suid-Afrika.

Grondbone

Vir grondbone is die oppervlakteskatting 40 050 hektaar, wat 6,80% of 2 550 hektaar meer is as die 37 500 hektaar wat tydens die vorige seisoen aangeplant is.

Sorghum

Die oppervlakteskatting vir sorghum toon ʼn geringe toename van 1,88%, vanaf 42 500 hektaar in 2020 tot 43 300 hektaar.

Droëbone

Die geskatte oppervlakte wat onder droëbone beplant is, is 51 650 hektaar, wat 2,99% of 1 500 hektaar meer is as die 50 150 hektaar wat tydens die vorige seisoen aangeplant is.