Sojaboonbedryf gaan van krag tot krag




Volgens Ikageng Maluleke, ʼn landbou-ekonoom verbonde aan Graan SA, kan dié rekordoes toegeskryf word aan dramatiese uitbreidings wat sedert 2012 in die bedryf aangebring is. Hierdie uitbreidings vorm deel van die departement van handel, nywerheid en mededinging (DTIC) se invoervervanging-strategie wat daarop gemik is om die plaaslike sojaboonbedryf uit te brei.

In die lig hiervan is Maluleke van mening dat dit juis nou die gegewe tyd is om uitvoermarkte uit te brei en die land as ʼn uitvoerder van proteïen-en plantaardige olies te vestig.

Sojaboonbedryf gaan van krag tot krag

“Aansienlike beleggings is in soja-en sonneblomsaad-persaanlegte gemaak met ʼn algehele kapasiteit van 2,5 miljoen ton, waarvan ʼn geskatte 1,75 miljoen ton aan sojabone toegewy word,” sê Maluleke en voeg by dat produsente goed gereageer het op die verhoogde aanvraag na soja.

Die geplante sojaboonoppervlakte het sedert die 2016-’17 seisoen met 64,4% gestyg en na verwagting sal dit oor die volgende paar jaar verder toeneem. In dieselfde tydperk het die aanvraag na plaaslik geproduseerde sojabone met ongeveer 48% gegroei, met ʼn gemiddelde jaarlikse verbruik van ongeveer 1,2 miljoen ton, waarvan die meeste vir olie en koek gepers word.

Volgens Maluleke word hierdie kringloop al hoe sterker en gevolglik word ʼn toename in oliekoek-en olieproduksie ervaar, wat die noodsaaklikheid van die invoer van proteïen-en plantaardige olies verlaag.

Om die bedryf nog sterker te maak is ʼn beleid ontwikkel om nuwe sojaboonsaadtegnologie na die land te lok. ʼn Teling-en tegnologieheffing is ook voorts ingestel om die ontwikkeling van nuwe kultivars en tegnologie aan te moedig. Hierdie heffing word sedert Maart 2019 toegepas en vergoed saadondernemings vir hul belegging in genetika en tegnologie.

Uitdagings

Volgens Maluleke ondervind die bedryf ook uitdagings wat die hoof gebied moet word.

Volgens verwagting sal produsente hierdie seisoen ʼn oorskot aan sojabone lewer, aangesien oliekoek steeds ingevoer word. Dit kan meebring dat plaaslike verwerkers kan sukkel om verder uit te brei. Die oortollige voorraad te same met die impak van swak logistieke stelsels, veral vanaf die binneland na die Wes-Kaap, kan verder tot afwaartse prysdruk bydra.

Uitvoere

Maluleke meen dat die verwagte produksietoename gedurende die 2021-’22 seisoen ʼn gulde geleentheid bied om nuwe uitvoermarkte te ontgin, terwyl daar ook daadwerklik aandag gegee moet word aan die verbetering van logistieke stelsels en die uitvoerkapasiteit van die plaaslike hawens.

Suid-Afrika voer reeds sojabone en sojaboonprodukte uit na lande in die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en Turkey. Volgens die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS) is altesaam 1 060 ton sojabone gedurende die 2020-’21 bemarkingseisoen uitgevoer, terwyl soja-oliekoek 99 000 ton en soja-olie 138 978 ton beloop het.