Somerson en min neerslae vir November




Dit volg nadat stormagtige weer die afgelope tyd oor dele van die Vrystaat, Gauteng, die suidelike dele van Mpumalanga, die oostelike dele van Noordwes en die grootste deel van die Ook-Kaap voorgekom het.

Wat die res van die somerreëngebied betref, verbeter die toestande vir reën in die oostelike helfte van die land in ʼn oostelike rigting vanaf die N1 in die Vrystaat tot in Limpopo in die laaste deel van die maand. Vooruitsigte is ook gunstig oor die grootste deel van die Oos-Kaap, wat insluit die baie droë Karoo vanaf Aberdeen tot Jansenville en Steytlerville, vanaf die laaste ongeveer tien dae van November.

Volgens die beskikbare weermodelle kan opvolgreën in dié gebiede in die eerste deel van Desember voorkom.

In die weste lyk die toestande vir opvolgreën redelik swak vir die res van November tot en met ten minste die eerste week van Desember, verduidelik Van den Berg en voeg by dat opvolgreën juis nodig is om die voortslepende droogte in hierdie gebiede te verbreek.

Volgens Van den Berg is sagte en deurdringende reën wat meer gereeld voorkom nodig vir saad om te ontkiem en vir swak plante om te kan herstel. Dié stelling beteken op die keper dat ten minste 30 mm tot 50 mm byna een keer in elke twee weke moet voorkom vir ten minste drie agtereenvolgende periodes van twee weke voordat daar ʼn werklike impak op die droogtetoestande gemaak kan word.

In gebiede waar wel reën geval het, kan die toestande as ʼn “groen droogte” beskryf word met pionierplante en onkruide wat groen vertoon, maar baie min vir produksie lewer. “Die groot skommeling in temperatuur veroorsaak ook dat plante se reaksie op reën nie na wense is nie, met dagtemperature wat gewissel het tussen 20°C en byna 40°C,” verduidelik Van den Berg en voeg by dat minimum temperature gewissel het van onder 10°C tot bokant 20°C en dat die reën wat wel geval het nie naastenby genoeg was om die droogte te breek nie.

Winterreëngebied

Van den Berg sê dat weermodelle tans op ligte reën oor die Suid-Kaap dui rondom die middel asook die einde van die maand.

Minder reën kan voorkom oor die Suidwes-Kaap en Swartland met slegs ligte buie in die laaste paar dae van November.

Temperature gaan wissel, met die voorkoms van koue fronte wat steeds gaan voorkom.