Suikerbelasting laat bitter smaak in die mond




Dit is die bevindinge van ʼn omvattende verslag wat in opdrag van die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings-en Arbeidsraad (Nedlac) op versoek van die portefeuljekomitee oor handel en nywerheid saamgestel is. Volgens dié verslag het suikerbelasting teen 2019 reeds daartoe bygedra dat:

  • 16 621 werksverliese in die algehele ekonomie voorgekom het.
  • ʼn Afname van R653 miljoen in beleggings aangeteken is.
  • Die bedryf se bruto toename in waarde tot die nasionale bruto binnelandse produk (BBP) met R1,19 miljard gedaal het.

Volgens Rex Talmage, voorsitter van die Suid-Afrikaanse suikerrietprodusente-organisasie SA Canegrowers, onthul die verslag ook dat suikerrietprodusente voor die instelling van die suikerbelasting altesaam 94 621 direkte, indirekte en afgeleide poste ondersteun het. Dié poste het 11,2% van die land se landbouwerkers ingesluit. Teen 2019 het die ingestelde suikerbelasting die bedryf egter reeds 9 154 poste gekos, byna 10% van sy arbeidsmag.

Alvorens die instelling van suikerbelasting het suikerrietprodusente ongeveer R10,5 miljard tot die nasionale BBP bygedra. Dié getal het tot sowat R214,7 miljoen per jaar gedaal na die instelling van suikerbelasting.

“Dit is belangrik om daarop te let dat dié bevindinge slegs die eerste jaar dek na die instelling van die suikerbelasting en daarom is die syfers ongetwyfeld baie hoër omdat dié belasting drie jaar later steeds van krag is,” sê Talmage. Hy verduidelik dat die suikerbelasting ingestel is gedurende ʼn tydperk waarin die bedryf vele uitdagings ervaar het, waaronder droogte, verhoogde produksiekostes en goedkoper suiker-invoere.

Hy is verder van mening dat ondanks hierdie negatiewe gevolge daar steeds geen bewys is dat die suikerbelasting bereik het wat die aanvanklike doelwit was nie, naamlik om nasionale vetsugvlakke te verminder. “Dit het die ergste moontlike scenario tot gevolg gehad met die suikerbedryf wat die grootste las dra van ʼn gesondheidsingryping wat nie deur enige bewyse ondersteun word nie,” sê Talmage.