Tekort aan kanolasaad op vooraand van planttyd

  • 11 March 2022
  • 1060
  • nuus



Dié tekort aan saad, wat van Australië, Suid-Amerika en Kanada af ingevoer word, word toegeskryf aan klimaatstoestande en gevolglike druk op produksietoestande. So meen Corné Louw, hoof van toegepaste ekonomie en lededienste by Graan SA.

Volgens Louw is die plaaslike kanolabedryf betreklik klein in vergeleke met ander lande en het Suid-Afrika aan die kortste end getrek toe bestellings vir kanolasaad uitgevoer is. Ten einde kort termyn oplossings vir die situasie te probeer kry sal Graan SA in gesprek tree met al die saadverskaffers om vas te stel hoe boere gehelp kan word.

Suid-Afrika het verlede jaar ʼn rekord kanolaoes van 197 000 ton van 100 000 hektaar ingesamel. Dié oes was volgens Louw so goed dat die land selfs kanola kon uitvoer. Die huidige tekort aan saad beperk egter vanjaar wintergraanboere se keuses. Dit is veral garsprodusente wat steeds onder druk is nadat die inperkingsregulasies die drankbedryf hard getref het, wat nou geraak word.

Volgens Louw sal boere wat nie kanolasaad kan bekom nie, meer koring plant, want die enigste alternatiewe naas gars is hawer en lupiene, en in veral lupiene wag plaaslike boere ook vir die regte kultivars.

Louw meen op die lang termyn is die antwoord dat plaaslike saadmaatskappye hulle daartoe verbind om saad plaaslik te vermeerder.