Unie waarsku wees waaksaam vir veediefstal oor feestyd

  • 05 November 2021
  • 1272
  • nuus



Volgens Mort Mortassagne, voorsitter van TLU SA se veiligheidskomitee, is die misdaadstatistiek vir 1 April tot 30 Junie, wat ʼn afname van 8% in veediefstal toon, niks anders as oëverblindery nie. Hy meen dat ofskoon daar in ses provinsies afnames in veediefstal was, die gevalle in die Vrystaat, KwaZulu-Natal en Mpumalanga toegeneem het. Dit moet ook volgens hom in gedagte gehou word dat baie veediefstalsake nie by die polisie aangemeld word nie.

Statistiek

Mortassagne sê dat daar tans net sowat 20% van veediefstalsake aangemeld word, terwyl slegs 4% van hierdie sake suksesvol afgehandel word. Hy reken dat die kanse om boewe vas te trek skraal is en dat die forensiese werk op veediefstal nie op standaard is nie. Ter illustrasie hiervan noem hy dat minstens 400 000 DNS-monsters op die databasis vir ontleding uitstaande.

Verskerp bekampingsaktiwiteite én strawwe

Ronnie Schilling, TLU SA-streeksbestuurder vir Oos Natal, is dit algemeen bekend dat die brandmerk van vee verpligtend is en deur Wet 6 van 2002 vereis word.

“TLU SA neem kennis van die stappe wat die polisie doen om dié wet toe te pas,” sê Schilling en voeg by dat die unie uit die aard van die saak baie dankbaar is teenoor die polisie en sê gevolglik hul steun tot die polisie toe.

Schilling meen egter dat strenger voorkomingsmaatreëls toegepas moet word, terwyl swaarder strawwe ook opgelê moet word. Hy meen dat boere gedemoraliseer word as hulle nie op hul eie of met die polisie se hulp impak kan maak op die probleem nie.

Tref bykomende maatreëls

Boere gaan moet bereid wees om gedurende die feesseisoen bykomende maatreëls in te stel om diefstalle te voorkom, meen Schilling.

Hy sê dit is van kardinale belang dat boere by hulle plaaslike veiligheidstrukture inskakel. Hulle word voorts aangeraai om alle sake aan te meld en deurlopend met die ondersoekbeampte kontak te hou tot die saak deur die hof gevoer word.