Veiligheid in landelike gebiede sterk op die voorgrond




Die ontwrigting van verkeer en vragmotors wat voorgekeer word en aan die brand gesteek word, het 'n invloed op landelike gemeenskappe. Dit het onder die loep gekom op 'n Nasie in Gesprek-paneelbespreking op Graan SA se Nampo-Kaap in Bredasdorp verlede week. 

Dié bespreking is gelei deur Theo Vorster van Galileo Capital. Een van die paneellede, Uys van der Westhuizen, 'n kenner op die gebied van landelike veiligheid, het gesê die jongste inligting toon landelike misdaad het 'n R7,7 miljard uitwerking op die Suid-Afrikaanse ekonomie jaarliks, waarvan veediefstal sowat R1,1 miljard beloop.

Intussen het Agri SA die jongste aanvalle op vragmotors wat landbouprodukte vervoer, en meer spesifiek bederfbare produkte, ten sterkste veroordeel. Dié organisasie se landelike veiligheidsvoorsitter van sy Sentrum vir Uitnemendheid, Tommie Esterhuyse, sê dié aanvalle wat op belangrike toegangsroetes geskied, het 'n direkte impak op die landboubedryf in geheel. 

Esterhuyse sê Agri SA het insette gelewer rondom kwessies soos dié, moorde en aanvalle op plase en kleinhoewes, asook veediefstal aan die nasionale polisie wat in die proses is om 'n nuwe nasionale landelike beveiligingsplan op te stel.  Hy sê volgehoue druk sal toegepas word op betrokkenes om Agri SA se insette wat gelewer is vir die nuwe nasionale landelike beveiligingsplan in te sluit.