Vleisbeesinligtingsdag | produsente leer meer oor vleisbeesproduksie

  • 18 March 2022
  • 1000
  • nuus



Tydens hierdie geleentheid het meer as 90 vleisbeesprodusente, waaronder verskeie vroueboere, byeengekom om meer oor vliesbeesproduksie in dié hoofsaaklik somersaaigebied te leer.

Die dag se program het soos volg daaruit gesien: vleisbeesvoeding (Telwiedré Voere), die omgewing se impak op vleisproduksie (Paradigm) en mineraal aanvullings (MSD). Die bekende veearts, dr Faffa Malan, het ook as gasspreker opgetree.

Hekke, heinings en harsings

In sy praatjie getiteld “Hekke, heinings en harsings” het dr Malan op die belangrikheid van biosekuriteit gefokus.

Hekke. Volgens dr Malan het ʼn produsent volle beheer oor wat alles by sy/haar hekke ingaan en daarom is dit belangrik om nie siek diere aan te skaf nie. Hy het veral gewaarsku teen brusellose, weerstandige bosluise, inwendige parasiete en bek-en-klouseer.

Heinings. Heinings moet in ʼn goeie kondisie wees om te verseker dat besmette diere uitgehou word en om te verhoed dat bulle deurbreek of oorspring.

Harsings. Produsente moet volgens dr Malan, dink voordat hulle doen en op die manier verseker dat hulle nie onnodig aan risiko’ blootgestel word nie.

Volgens Thabo van Zyl, lid van die telersorganisasie, sal daar beslis volgende jaar weer so ʼn inligtingsdag aangebied word. Hy is veral opgewonde oor die groot aantal jongboere wat die geleentheid bygewoon het.