Volgende twee maande is kritiek vir oes – Thys Grobbelaar




Thys het op Woensdag, 6 Januarie 2021, ʼn gewastoer onderneem om die stand van aanplantings in die Noord- en Noordwes Vrystaat gade te slaan. Hy het in Klerksdorp begin en ʼn roete na Viljoenskroon, Bothaville en Wesselsbron en terug gevolg.

Oor die algemeen lyk die aanplantings goed, alhoewel daar heelwat minder soja- en sonneblom aanplantings gemaak is as wat aanvanklik verwag is. 

Volgens Thys gaan vanjaar na alle waarskynlikheid ʼn herhaling van die vorige seisoen wees, veral gegewe die bo-gemiddelde reënval wat reeds in hierdie gebied aangeteken is.  Statistiek toon byvoorbeeld dat die Losdorings Silo, in die Wesselsbron-distrik, vanjaar reeds 364 mm reën aangeteken het, in ooreenstemming met die 267 mm in dieselfde tyd verlede jaar.  Die Schoonspruit Silo, in die Bothaville-distrik, het op sy beurt reeds 392 mm reën aangeteken teenoor die 257 mm in dieselfde tyd verlede jaar. Aansienlike versuip skade het die vorige seisoen in die distrikte voorgekom, met minder reën as hierdie seisoen. Met ʼn grond geaardheid wat nie baie diep is nie, veroorsaak dié neerslae dat nie alle water geabsorbeer kan word nie, en gevolglik verhoog die risiko van versuipskade.

Thys verduidelik dat versuipskade egter nie deur die bank sal voorkom nie, en sê dat in dieselfde distrik jy lande sal kry wat enigiets van 1 tot 3 ton per hektaar  kan oplewer terwyl ʼn ander tussen 8 en 10 ton sal kan lewer. Dit alles hang af van die aard van die grondprofiel, die dreineringsvermoë en die voorkoms van kunsmatige strukture wat die wegvloei van water belemmer (soos byvoorbeeld ʼn teerpad aangrensend aan die land) of natuurlike dreineringstrukture soos aanliggende panne en spruite wat die afloop van water vergemaklik.

Volgens Accuweather word reën nog goeie vir minstens die volgende 90 dae vir dié gebied voorspel. Thys is van mening dat die situasie fyn dopgehou moet word omdat die reeds oornattoestande opbrengste onder druk kan plaas. Hy sê as die reën goed verspreid voorkom sal die gewasse dit redelik kan hanteer, maar groot neerslae kort op mekaar kan problematies wees.