Vooruitsigte baie goed vir nat November

  • 29 October 2021
  • 1361
  • nuus



Tropiese vog sal vanaf die 21ste en 22ste Oktober oor Namibië en oor die sentrale tot westelike dele van die Noord-Kaap beweeg, wat reën van sowat 10 mm na Upington en distrikte meer oos en suidoos van dié Noord-Kaapse dorp kan bring.

Volgens Van den Berg sal daar vanaf vandag, 25 Oktober, enkele tot verspreide buie oor die grootste deel van die somerreënvalstreek voorkom, waarvan redelike swaar neerslae oor die Oos-Vrystaat, Mpumalanga, Gauteng en KwaZulu-Natal moontlik is. Dié swaar neerslae kan ook in die noordelike dele van die Oos-Kaap en suidelike dele van Limpopo voorkom.

ʼn Nat Novembermaand

In die eerste week van November kan neerslae meer weswaarts uitbrei na die oostelike dele van die Noord-Kaap en Noordwes, en Van den Berg meen wydverspreide reën gaan oor groot gebiede voorkom. Hy reken dat meer as 50 mm moontlik binne die eerste helfte van die maand oor veral die sentrale tot oostelike dele van die land verwag kan word.

Dié nat toestande wat vir November voorspel word kan volgens Van den Berg die aanplanting van somergrane benadeel en hy maan produsente aan dat dit raadsaam is om aanplantings te doen wanneer die grondtemperatuur en water dit toelaat.

Langtermynvoorspelling

As dit kom by ʼn langtermynvoorspelling sê Van den Berg dat toestande gunstig bly met ʼn La Niῇa-stelsel wat besig is om te ontwikkel.

Met die vooruitsigte van baie goeie neerslae in November en ook die begin van die somerreënseisoen in die laaste paar dae van Oktober, is die kanse op ʼn droër tydperk rondom Januarie oor veral die sentrale tot oostelike dele van die land hoër.

Van den Berg voorspel dat redelik baie reën in veral November en Desember kan voorkom, met baie bewolkte en koeler toestande wat die somergraan-oes kan benadeel. ʼn Droër, warm tydperk in die midsomer kan voordelig wees, na gelang van hoe lank dit aanhou en hoe nat toestande voor die tyd gaan wees.