Voëlgriepuitbreking in Gauteng aangemeld

  • 16 April 2021
  • 4576
  • nuus



Volgens ʼn verklaring wat in hierdie verband uitgereik is, het monsters van die plaas wat vir laboratoriumtoetse gestuur is, positief vir die H5-stam van voëlgriep getoets en is alle voëls wat geraak is, onmiddellik van kant gemaak.

Nagenoeg 300 hoenders het gevrek en die Gautengse veeartsenyowerheid het gevolglik die plaas onder kwarantyn geplaas. ʼn Uitbreking van die H5N8-stam, ʼn hoogs aansteeklike voëlgriep, is in 2017 op dieselfde plaas aangemeld.

Daar word nog gewag vir die resultate van toetse wat by Onderstepoort uitgevoer is om te bepaal of dit die hoogs aansteeklike HPAI of die minder aansteeklike LPAI-variant is.

Ondersoek na die vrektes van wilde voëls

Die departement is tans ook besig om ondersoek in te stel na die vrektes van groot getalle wilde voëls naby Stutterheim in die Oos-Kaap. Toetse wat by hoenders in twee nedersettings naby dié gebied gedoen is, toon dat newcastlesiekte en voëlgriep nie die oorsaak van die vrektes is nie.

Nog vrektes is in Oos-Londen, Berlin, Gqeberha, St. Francis en Qonce (King William’s Town) aangemeld.

Produsente gemaan om op hul hoede te wees

In die lig van die jongste uitbreking maan die departement produsente om bedag te wees vir enige tekens van die teenwoordigheid van voëlgriep en om enige vermoedelike gevalle aan te meld by hul naaste staatsveearts.

Van die tekens vir HPAI sluit in:

  • Stilte en uiterse depressie.
  • Skielike daling in eierproduksie, waarvan baie sagte doppe het of doploos is.
  • Kamme en lelle wat rooi en geswel is.
  • Swelling van die vel onder die oë.
  • Hoes, nies en senuweeagtige tekens.
  • Diarree.
  • Bloeding op die hakke.

ʼn Paar vrektes kan binne ʼn paar dae plaasvind, wat gevolg word deur die spoedige verspreiding van die siekte en vrektes van tot 100% binne ʼn 48-uur periode.

Alle hoenderprodusente en eienaars van voëls wat as troeteldiere of in dieretuine aangehou word, word aangemoedig om die volgende maatreëls betyds in te stel:

  • Hou voëls weg van gebiede waar wilde voëls voorkom.
  • Beheer toegang van mense en toerusting na voëlhokke.
  • Moenie water en kos verskaf op maniere waardeur wilde diere aangetrek word nie.
  • Hou vrylopende diere onder dak of binne ʼn ingeslote area.
  • Ontsmet die eiendom, hoenderhokke en toerusting gereeld.
  • Vermy die inneem van diere met ʼn onbekende siektestatus.
  • Meld siektes en vrektes by jou betrokke staat- of private veearts aan.
  • Verwyder mis en dooie voëls op ʼn veilige manier.