Wagyu-vleisproduksie skiet die hoogte in

  • 18 February 2022
  • 993
  • nuus



Volgens Landbou.com is daar gedurende die afgelope jaar 1 303 ton wagyu-vleis geproduseer, waarvan 60% uitgevoer is, die meeste na Oosterse lande.

Volgens Johan de Vos, voorsitter van die Wagyu-telersgenootskap van Suid-Afrika, is daar gedurende 2021 metings vir marmering op 3 667 karkasse gedoen. Hierdie karkasse het gemiddeld 461 kg geweeg. In 2019 is 385 karkasse geskandeer en in 2020 altesaam 1 799 karkasse. Gedurende Januarie vanjaar is 469 karkasse geskandeer.

Daar is nou 147 geregistreerde Wagyu-telers in Suid-Afrika en Namibië, met altesaam 10 655 vroulike diere ouer as 18 maande en 1 936 geregistreerde stoetbulle.

De Vos meen Suid-Afrikaanse Wagyu-teelmateriaal hoef nie terug te staan vir die res van die wêreld nie. Hy sê dat telers ʼn behoefte aan topteelmateriaal het en verstaan dat dit ʼn direkte impak op die gehalte van die produk het wat hul lewer, en sodoende ook die rand per kilogram wat hulle op die mark realiseer.