Wegholveldbrande verswelg weiding en infrastruktuur in Noord-Kaap

  • 13 August 2021
  • 1234
  • nuus



Dit volg nadat drie afsonderlike, vernietigende brande vanaf 5 tot 10 Augustus in Kuruman, Blikfontein, Reivilo, Daniëlskuil en Lohatlha voorgekom het. Van dié brande het gister (10 Augustus) weer plek-plek opgevlam.

Brandstigting vermoed

Kenners reken die eerste brand het verlede week op die R31-roete tussen Kuruman en Daniëlskuil uitgebreek. Die oorsaak van die brand word aan brandstigting toegeskryf omdat daar baie voorvalle van brandstigting op dié roete voorkom. Dit wissel van brandende stompies wat by motorvensters uitgegooi word, vure wat langs die padgemaak word en selfs kwaadwillige brandstigting.

Die tweede brand het Sondagoggend in Kuruman naby die gholfbaan begin en is deur ʼn sterk noordoostewind in die rigting van Reivilo en Blikfontein versprei. Hierdie brand het ʼn groot verlies aan weiding en infrastruktuur soos pale, heinings en pype tot gevolg gehad.

Die brand wat Sondagmiddag in Lohatlha uitgebreek het, het glo vanuit die weermag se gebied gekom waar daar ook verskeie gemeenskapslede woon. Die oorsaak van die brand is onbekend.

Nasionale regering moet méér doen

Volgens Agri Noord-Kaap moet die nasionale regering beter reageer op grootskaalse veldbrande wat weiding vernietig, en die organisasie meen gekoördineerde brandbestryding moet toegepas word ten einde die ekonomie en voedselsekerheid te help beskerm.

Willem Symington, ondervoorsitter van Agri Noord-Kaap, meen die regering moet vliegtuie waarmee brandbestryding vanuit die lug gekoördineer word én helikopters wat water gooi, verskaf en die skakeling tussen brandslaanspanne van distriksmunisipaliteite verbeter.

Symington verduidelik dat die brande te groot is vir brandslaners op die grond om dit vinnig onder beheer te bring. ʼn Verdere probleem is dat die verskillende rampbestuursentrums van die distriksmunisipaliteite nie saamwerk nie. Laasgenoemde het duidelik na vore gekom toe sekere amptenare nie op Vrouedag beskikbaar was om met brandbestrydingsaktiwiteite te help nie.

Symington meen voorts dat brandstigting niks anders as ʼn terreurdaad is nie, omdat dit ʼn aanval op die ekonomie is. “Ek voel dat brandstigting oor dieselfde kam geskeer word as die onlangse onluste in Gauteng en KwaZulu-Natal. Die regering moet ondersoek instel en beter veldtogte voer waarin landsburgers van die gevare van brandstigting en brande ingelig word,” sê Symington.

* Volgens Janine Beyleveld, bedryfsbeamte van Agri Noord-Kaap, bestaan daar ʼn dringende behoefte vir kos en weiding vir sowat 7 000 stuks vee.