Die effek van totale patroonlengte op akkuraatheid

  • 22 November 2019
  • 3139
  • nuus



Met die toetse het die groeperings gewys dat die lading wat die mees konstante spoed gegee het, nie noodwendig die beste groepering het nie. Daardeur is afgelei dat spoed nie die enigste aanduiding van akkuraatheid kan wees nie. Die geweer se groepering op die teiken moet ook gebruik word om die geweer se akkuraatheid te bepaal.

In die vorige artikel is genoem dat die konstante spoed wel ’n aanduiding kan wees van ’n akkurate lading, maar dat daar nog veranderlikes is wat ingereken moet word sodat die geweer akkuraat kan skiet. Die veranderlike wat in hierdie artikel bespreek en getoets word op die skietbaan, is totale patroonlengte.

In die vorige toetse is bevind dat ’n lading van 44.5 gr S341 ’n uiterste verspreiding van spoed gee van 12 fps. Met ander woorde, die stadigste koeël en die vinnigste koeël van die drie toetsrondtes het met 12 fps verskil. Die uiterste verspreiding van spoed met 44.5 gr was die kleinste van die ses ladings wat getoets is. Die lading het ’n groepering van 60.33 mm gegee, terwyl ’n totale patroonlengte van 71.1 mm gebruik is.

Met die volgende stel toetse wat ge - skiet is op ’n 100 m baan, met ’n Howa 308, is die resultate soos in die aangehegte tabel verkry.

Dit is duidelik uit die tabeldata dat die groepering groter word en weer kleiner word soos wat die totale patroonlengte langer geword het. Met ’n TPL van 72.82 mm het die geweer ’n groepering geskiet van slegs 5.8 mm. Hieruit kan ons aflei dat daar 2 veranderlikes is wat ’n invloed het op ’n geweer se akkuraatheid, naamlik lading en lengte.

Die uiterste verspreiding van spoed word gebruik om ’n gunstige lading uit te kies vir ’n spesifieke wapen aangesien die beste lading nie noodwendig ’n goeie groepering gee nie. In vorige toetse het dit duidelik na vore gekom. Die totale patroonlengte moet ook langer of korter gemaak word om die gunstige lengte te kry vir die spesifieke wapen. Met skiettoetse op die baan en groeperings as die finale bewys, kan ons ’n akkurate lading vir ’n wapen bepaal en die akkuraatheid van die wapen toets.

Die bewys dat ’n wapen akkuraat is al dan nie, word bepaal deur die groepering wat hy kan skiet. Totale patroonlegte het wel ’n groot invloed op die akkuraatheid van ’n geweer. In die voorbeeld wat behandel is, het die groepering van 60.33 mm verklein na 5.8 mm deur die TPL langer te maak met 1.72 mm.