Hoe groot is die ureumrisiko in my lek?




Dit is veral opsigtelik tydens die oorgang van somer na winter, maar selfs meer nog in tye met ‘n lae of swak ruvoeraanbod en gepaardgaande stygings in daaglikse lekinname.

Wat ureumvergiftiging verder kompliseer, is die feit dat daar nie vasgestelde vlakke is wat korreleer met toksisiteit nie. Sekere diere toon baie hoër vlakke van verdraagsaamheid as ander. Veilige vlakke mag van plaas tot plaas verskil en kan selfs op dieselfde plaas wissel na gelang van die seisoen, weidingsgehalte en algehele kuddegesondheid.

Waak dus teen die siening dat jou lek ‘veilig’ is, want diere kan aan subkliniese ureumvergiftiging ly – sonder sigbare tekens met gevolglike finansiële en produksieverliese. In hierdie artikel stof ek graag die ureumonderwerp af om duidelikheid te gee oor wat tydens ureumvergiftiging gebeur en hoe dit prakties bestuur kan word.

Presies wat is ureumvergiftiging?
Ureum op sigself is nie giftig nie – dit is tydens die metabolisering van ureum in die rumen waar probleme ontstaan. Mikrobes in die rumen skei die ensiem, urease, af. Hierdie ensiem hidroliseer die ureum na koolsuurgas en ammoniak.

Laasgenoemde is giftig, maar word in die normale verloop van sake weens die lae pH-omgewing in die rumen na ammonium omgeskakel. Ammonium is die herkenbare vorm van stikstof vir die mikrobes en word gebruik as die boustene vir die sintetisering van mikrobeproteïen.

Ureumvergiftiging staan ook as alkalosevergiftiging bekend en ontstaan as gevolg van die vinnige vervaardiging van groot hoeveelhede ammoniak. Die dier se kapasiteit om hierdie groot klomp ammoniak om te skakel na ammonium, word dus oorlaai. Die oormaat ammoniak word in die bloedstroom opgeneem en die suurstofdraende funksie van bloed word dan belemmer as gevolg van die alkalisering van die bloed. Senuweefunksies word gevolglik nadelig beïnvloed. Die skielike styging in die rumen pH is boonop bevorderlik vir die opname van ammoniak.

Kliniese tekens van ureumvergiftiging raak gewoonlik vinnig sigbaar (15 tot 30 minute na voeding). Kliniese tekens sluit in maagpyn, skuim om die bek, hipersensitiwiteit vir klank en beweging, spiertrillings, moeilike asemhaling en opblaas weens die opbou van ammoniakgas. Diere vertoon ‘n algemene swakheid en vrek gewoonlik binne vier ure na inname.

Tydens ‘n post mortem kom die veearts gewoonlik die skerp reuk van ammoniak teë, tesame met ‘n rumen pH >7,5 asook skuim en maaginhoud in die lugpype as gevolg van braking.

Bestuur die risiko
Alhoewel ons almal vertroud is met die gevare van ureum, verloor ons steeds jaarliks vee as gevolg van ureumvergifting. Dit is grootliks weens foute of bestuursoorsigte wat verhoed kon word. Dit is wel nodig om te beklemtoon dat, te midde van die risiko’s verbonde aan die gebruik van ureum in herkouerrantsoene, die ekonomiese voordele wat ureum as stikstofbron bied, steeds baie swaarder weeg.

Die volgende riglyne is noodsaaklik in die daarstelling van ‘n doeltreffende ureumrisikobestuursraamwerk, met inagneming van die feit dat elke plaas verskil in terme van bestuur, produksiestelsels, tipe en gehalte weiding en dies meer:

  • Verseker ‘n voldoende aanpassingstydperk waartydens diere stelselmatig oorgeplaas word na ureum of ander NPN-bevattende bronne, veral tydens die oorskakelingsperiode van somerna winterlekke (proteïenlekke). Let ook daarop dat diere wat geskuif word en onder stres verkeer of enige vorm van imuunonderdrukking ondervind, meer vatbaar is. Dit is ook belangrik om te onthou dat diere wat vir vier dae of langer nie ‘n ureumbevattende lek ontvang het nie, van voor af aangepas moet word.
  • Verseker korrekte formulering, nie net in terme van die korrekte hoeveelheid ureum nie, maar ook in terme van genoegsame energie in die vorm van koolhidrate.
  • Baie belangrik: vermy honger diere. Ons sien dikwels meer ureumverwante vrektes as gevolg van diere wat hulle oorvreet aan ‘n lek wat korrekte vlakke van ureum bevat, as wat ons vrektes sien as gevolg van foutiewe formulasies. Verseker goeie kwaliteit weiding en maak seker diere het vrye toegang tot sout alvorens ‘n ureumbevattende lek gegee word.
  • Meng so homogeen as moontlik om die skeiding van lekbestanddele te voorkom. Waak veral teen ureumklonte en verseker dat die personeel wat dit meng, deeglik bewus is van die hoeveelhede wat ingesluit moet word. ‘n Berekeningsfout kan ernstige nadelige gevolge hê.
  • Waak teen lekke wat rou sojabone bevat, aangesien dit ook urease bevat wat die omskakeling van ureum na ammoniak kan versnel.
  • Moet ook nie lek in ou kunsmissakke berg nie.
  • Verseker dat lekke nie natreën nie en dat krippe goed dreineer.
  • Buitefaktore wat bevorderlik is vir ureumvergiftiging sluit in parasitiese lewerbeskadiging, domsiekte en die inname van gifplante.
  • Wees veral bedag waar beeste en skape saam wei. Dit is bekend dat skape meer vatbaar is vir ureumvergiftiging as beeste. ‘n Beeslek is nie ‘n bees- én skaaplek nie!

Ten slotte
Dit blyk duidelik uit verskeie proewe dat ureum uit ‘n ekonomiese oogpunt, geen gelyke het wat die verskaffing van stikstof aan rumenmikrobes vir die optimale benutting van veral laer-gehalte winterweidings betref nie. Ons weet ook dat koste-effektiewe, strategiese lekaanvullings onlosmaaklik deel is van die handhawing van goeie liggaamskondisietellings, met gevolglike verhoogde produksie- en reproduksieprestasie (kalfpersentasie, speengewig, herkonsepsiekoers, ens.)

Ureum en die korrekte bestuur daarvan is dus ‘n sleutelkomponent vir die versekering van goeie, gesonde mikrobefunksionering en om die uitdagings wat met lae-kwaliteit weidings gepaardgaan (onsmaaklikheid, lae inname, lae verteerbaarheid), kostedoeltreffend die hoof te bied.