SA paaie nou amptelik die gevaarlikste ter wêreld

  • 26 March 2021
  • 5079
  • nuus



Dié stand van sake word voor die deur van provinsiale regerings landwyd geplaas en word toegeskryf aan onder meer swak (of geen) instandhouding, kontrakteurs sonder die nodige vaardighede, korrupsie en wanbestuur. Hoe dit ook al sy, die gevolge hiervan is nie net beperk tot ongelukke en noodlottige padsterftes nie, maar ook ʼn afname in produktiwiteit vir lede van die landbou-en voedselwaardekettings.

In die lig hiervan het verskeie produsente en boereverenigings regoor die land die besluit geneem om self skouer aan die wiel te sit en slaggate te vul ten einde padoppervlaktes gangbaar te probeer maak.

Volgens Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), moet gemeenskappe daarteen waak om die huidige toedrag van sake as normaal te aanvaar, en moet daar daadwerklike stappe geneem word om verandering te bewerkstellig. Hy vra dat mense wat skade gely het weens slaggate op dié provinsie se paaie, eisvorms invul wat deur die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer voorsien word, en afskrifte aan VL te stuur. “Ons gaan aanhou druk uitoefen tot daar resultate is,” meen Wilken.

In die Oos-Kaap voer produsente reeds ʼn jare lange hofstryd om die provinsiale departement te dwing om sy verantwoordelikhede na te kom. Volgens Brent McNamara, uitvoerende hoof van Agri Oos-Kaap, word tot 80% van die provinsie se paaie in landelike gebiede nie volgens voorskrifte en bepalings in stand gehou nie. In 2017 is ʼn omvattende hofbevel teen die departement verkry wat in praktyk beteken dat boere self die paaie kon herstel en die regering daarvoor sou betaal. Die provinsiale regering het hierteen geappelleer en gevolglik is daar ooreengekom dat die provinsiale regering dadelik voorkeur sou gee aan die herstel van die haglikste paaie. Daar is verder ooreengekom dat die provinsiale regering Agri Oos-Kaap se insette oor brandpuntpaaie in ag sal neem, en dat hy Agri Oos-Kaap oorsig oor die begroting sou gee. Dit het nie gebeur nie en Agri Oos-Kaap is in 2020 weer hof toe waar dié skikkingsooreenkoms tot ʼn hofbevel verklaar is.

Internasionale studie

Dit wil voorkom asof Suid-Afrika se paaie selfs buite die landsgrense vir ʼn beroering sorg. ʼn Internasionale studie van ongelukke op paaie in meer as 50 lande het bevind dat Suid-Afrika die gevaarlikste paaie ter wêreld het.

Dié studie, deur die Amerikaanse bestuurdersopleidingsgroep Zutobi, het die veiligheid op 56 lande se paaie gemeet deur verskeie faktore in ag te neem, onder andere die sterftekoers op paaie, die maksimum spoedgrens en die aantal mense wat veiligheidsgordels dra. Hiervolgens is lande ʼn punt uit tien gegee. Suid-Afrika het ʼn skamele 3,23 uit tien behaal, die laagste van al die lande. Thailand het die tweede swakste gevaar met ʼn puntetelling van 4,45 uit tien, gevolg deur Amerika (5,09) en Indië en Argentinië wat albei 5,1 behaal het.

Luidens die studie het Suid-Afrika die tweede meeste padsterftes, met 26 sterftes per 100 000 lede van die bevolking, ter wêreld. Die studie het ook bevind dat nagenoeg 57,5% van alle padsterftes in die land deur dronkbestuurders veroorsaak word. Dit is verreweg die hoogste padstertesyfer weens dronkbestuur ter wêreld. Net sowat ʼn derde van alle Suid-Afrikaners dra boonop veiligheidsgordels.