So sien weervoorspelling daarna uit vir Oktobermaand

  • 23 September 2021
  • 1378
  • nuus



Koue fronte sal volgens Van den Berg nog tot Middel Oktober oor Suid-Afrika beweeg, en veral in die suidelike helfte van die land sal minimum temperature laag bly. Ryp kan selfs nog tot in die tweede week van Oktober voorkom op plekke soos Barkly-Oos en Aliwal-Noord.

Weervoorspelling

Hittegolftoestande kan in die laaste week van September en die eerste week van Oktober oor die noordelike dele van die land (Limpopo) voorkom. Van den Berg voorspel dat warm toestande ook oor Noordwes, die Vrystaat, die noordelike dele van die Noord-Kaap en Gauteng sal voorkom.

Temperature oor die winterreëngebied gaan in dié tyd matig tot koel bly as gevolg van die effek van die koue fronte en die koeler see-oppervlakwater van die aangrensende Indiese Oseaan. Die see-oppervlakwater is tans 2-3° C koeler as normaal.

In terme van die winterreën, meen Van der Berg dat neerslae al verder suidwaarts langs die Ooskus op beweeg. Hy voorspel dat neerslae van minder as 5 mm rondom die 25ste, 29ste en 30ste September moontlik is, terwyl daar ook neerslae in die tweede week van Oktober oor dele van die winterreëngebied moontlik is.

Intussen is daar aanduidings van droogte by koring en ander wintergewasse in veral gedeeltes van die Swartland. Van der Berg verduidelik dat die koeler toestande tot op hede die groei-en/of hitte-eenhede van die wintergewasse baie perk en daarom is die ontwikkeling van die gewasse oor die algemeen stadiger as gewoonlik. Daar is volgens Van der Berg nog ʼn baie belangrike tyd wat voorlê tot middel Oktober wat die finale oes kan bepaal, want wintergrane, maar veral koring, is tans in ʼn baie gevoelige groeistadium.

Somerreënvooruitsigte

Van den Berg verduidelik dat namate die koue fronte oor die land beweeg, die brandgevaar oor die somerreëngebiede hoog bly, veral met die gepaardgaande winderige toestande.

Soos tropiese vog die afgelope paar weke aansluiting vind van Angola en Botswana af, en daar met elke koue front ligte somerreën oor die oostelike en sentrale dele van die land voorkom, dui voorspellings daarop dat reën in die tweede week van Oktober oor die oostelike dele van die land kan voorkom. Hierdie gebied sluit in die noordelike dele van die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, die sentrale tot suidelike dele van Mpumalanga, asook die Oos-Vrystaat en Gauteng.

Nog neerslae kan al hoe meer gereeld oor die oostelike dele voorkom in Oktober, terwyl die laaste deel van Oktober neerslae in ʼn weswaartse rigting kan meebring, na dele in die Vrystaat, Noordwes en die oostelike dele van die Noord-Kaap.