TLU SA | Laat brandstofprys verlaging by verbruikers uitkom

  • 07 January 2022
  • 1141
  • nuus



“Die laaste tyd is baie klagtes van lede en ander boere ontvang rakende die geweldige prysstygings in onder andere kunsmis en uiteenlopende kommoditeite wat boere nodig het om kos op elkeen se tafel te plaas. Met verdere ondersoek, is dit duidelik dat die styging in brandstofpryse en vervoerkoste van die vernaamste redes is,” sê mnr. Van de Graaf.

“Ons wil ’n beroep op ons lede, landbouers en die algemene publiek doen om daarop te let of sekere pryse inderdaad gaan verlaag noudat die pryse met sowat 70 sent per liter daal. Dié verlaging behoort aan die verbruiker deurgegee te word. Feitlik alle noodsaaklike produkte wat die verbruiker gebruik, het ’n rakleeftyd van ongeveer ’n week. Dus behoort die verbruiker verligting ná ongeveer ’n week te kan voel.

“TLU SA sal veral daarop let dat boere verligting by hul tradisionele aankooppunte ervaar, en ons doen ’n beroep op maatskappye wat leweransiers aan die boere is, om inderdaad die verligting deur te gee, veral omdat boere uiteindelik steeds prysnemers bly, terwyl die hoë insetkoste dit moeilik maak om nog volhoubaar te produseer.”