Toename in hondsdolheidgevalle onder mense

  • 03 December 2021
  • 1206
  • nuus



Altesaam 17 gevalle van hondsdolheid onder mense is reeds vanjaar in die land aangemeld, met nege gevalle wat in die Oos-Kaap bevestig is, vier in KwaZulu-Natal en vier in Limpopo. Die eerste hondsdolheidgeval in dekades is ook die afgelope maand in Kaapstad bevestig. Ses van vanjaar se gevalle is gedurende die afgelope twee maande aangemeld.

Volgens ʼn verklaring wat deur die instituut uitgereik is, word soortgelyke gevalle jaarliks in Suid-Afrika aangemeld, maar vanjaar is daar heelwat meer as vorige jare. Verlede jaar was daar slegs agt bevestigde getalle, 10 in 2019, 16 in 2018 en ses in 2017.

Hondsdolheid is ʼn siekte wat die brein beïnvloed en dit word dikwels vanaf katte en honde na mense oorgedra. Oordrag vind plaas wanneer ʼn besmette dier jou byt, krap of op ʼn wond lek.

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling doen in die lig van dié hoë besmettingskoers ʼn beroep op lede van die publiek en vakansiegangers om nie rondloperhonde op te tel of aan te raak nie. Deur besmette diere te huisves kan hondsdolheid voorts na ander gebiede of provinsies versprei word, terwyl dit ook die lewe van jou en jou gesin in gevaar kan stel.

Lede van die publiek word gemaan om rondloperhonde by hul naaste dierereddingsorganisasie aan te meld.

Volgens die departement toon diere wat hondsdolheid het, matige tot erge veranderinge in hul gedrag. Party raak swak en passief, terwyl ander skielik aggressief word en mense aanval. Besmette diere sal ook baie kwyl, sukkel om te sluk of voortdurend blaf en kerm.

* Indien jy vermoed dat jy aan hondsdolheid blootgestel is, soek dadelik mediese hulp.