Bielie van ʼn Boerbokram behaal internasionale rekordprys

  • 23 September 2021
  • 3958
  • nuus



Nie net is Maserati vroeër vanjaar aangewys as die grootkampioenram op die wêreldskou in Bloemfontein nie, maar hy was ook aangewys as die kampioen-tweetandram én die senior kampioenram.

Maserati is onlangs deur die Lukas Burgerstoetery, in die distrik Griekwastad, uit die hand verkoop aan Salmon van Huyssteen Boerbokstoetery in Pretoria en, die Joubert Horn Boerbokstoetery in Vryburg. Volgens Joubert Horn is Maserati indrukwekkend aangesien hy van ʼn baie indrukwekkende bloedlyn afkomstig is. “Ek kan nie eintlik eienskappe uitsonder nie, want hy is van voor tot agter baie korrek, en dra sy kop baie mooi. Iets wat ek egter in my kudde kort, is ʼn sterk agterkant. Maserati trap verskriklik breed agter en hy is lekker gevul.”

Voortreflike gene

Maserati se pa, Ferrari, is in 2019 as die Noord-Kaapse kampioenram en as wêreld reserwe junior kampioenram aangewys. Sy ma, Muscles, was die dogter van die ram Airbus, wat deur die Lukas Burgerstoetery gebruik is.

In November vanjaar sal daar 20 dekkings van Maserati beskikbaar gestel word op die X-treme Genetics-veiling, en volgens die Suid-Afrikaanse Boerboktelersvereniging is dit ʼn fantastiese beleggingskeuse vir kopers omdat dié ram ongetwyfeld tans die beste teelbok in die bedryf is.

Die vorige wêreldrekordprys vir die Lukas Burgerstoetery was R450 000 en is in 2015 betaal vir die ram, Tolla. Volgens Burger is diesulke prestasies goed vir die hele Boerbokbedryf, en hy meld dat hy navrae van so ver as Indië en Thailand ontvang.

Produksieveiling lewer goeie pryse

Burger se produksieveiling wat vroeër die maand aangebied is, het heelwat goeie pryse gelewer.

Die duurste ram is vir R290 000 verkoop, terwyl die gemiddelde prys vir ramme R36 900 was en R31 500 vir ooie.

Volgens Burger is Boerbokke wêreldwyd gesog vir hul vleis, wat volgens verskeie studies baie gesond is.



Van links is die telers Lukas Burger en sy seun, Abraham, en die kopers Joubert Horn en Salmon van Huyssteen. Foto: Lukas Burgerstoetery, Facebook.