Bou brûe van vooruitgang - Menslike hulpbronne deel van jou toekomsstrategie

  • 20 December 2019
  • 7659
  • nuus



Hierdie onderwerp is ook by die 2019 Senwes Toekomsfokusdag bespreek, waarvan Neels deel was. Hy het sy kennis, raad en suksesverhale met ons gedeel.

ARBEIDSBESTUUR IS KOMPLEKS

Arbeidsbestuur is ingewikkeld omdat mense wat by jou werksmag aansluit, baie verskillend is. Personeellede het verskillende agtergronde, ervaring en toekomsverwagtinge. Daarom is dit baie moeilik om alles in ’n stel reëls vas te vat. Dus moet daar baie keer op ’n persoon-tot-persoon basis gewerk word en mense moet op meriete hanteer word.

Die praktiese toepassing op ’n plaas is baie moeilik, omdat jou personeel op een dag verskillende probleme of versoeke kan hê wat kan wissel van een met 'n doktersbesoek tot ’n ander wat ’n begrafnis wil bywoon en geld wil leen. Die probleem wat jy in boerdery het, is multidissiplinêr. Die probleem op ’n plaas is dat die werk moet aangaan. Dit is prakties baie moeilik om situasies te hanteer omdat die persoon wat betrokke is of oortree, die verloop van die hele dag belemmer.

Uitdagings van die bestuur van ’n arbeidsmag Die vernaamste uitdagings van die be - stuur van ’n arbeidsmag kan opgedeel word in die wetlike aspekte, soos vorms wat deur die wet vereis word, die reëls en regulasies wat die werkgewer verwag, asook die menslikheidsfaktor van arbeidsbestuur. Die punte som die werksituasie presies op waar die wet, werkgewer en personeel in harmonie moet saamwerk. Neels verklaar dit so: “Jy wil nooit met ’n situasie sit waar die een gedeelte die ander gedeelte versmoor nie. Word so ’n situasie van versmoring vermy, kan daar soveel meer bereik word, want jy wil steeds hê ’n individu moet kan uitstyg, jy wil steeds ’n leier kan identifiseer en jy wil steeds vrydenkendheid hê”.

ONTWIKKELING VAN PERSONEEL - Ken jou personeel en hulle behoeftes

Onthou altyd, ’n werker se grootste motivering sal altyd vergoeding wees. Ons kan dit in tasbare vergoeding, nie-tasbare vergoeding en menslike welsynsvergoeding opdeel. Omdat hierdie motivering so belangrik is, skryf alles op wat deur die maand gebeur, sodat jy met ’n loneprogram in ’n salarisstrokievorm presies vir jou personeel kan uitwys wat hul loon is met presiese aftrekkings ten opsigte van ongeskiktheid, aftreefonds, spaarplan, afwesigheid by die werksplek en ander inligting. Die uitdaging op die plaas is egter om alles te hanteer, saam te vat en dan dit as verwysing te rugsteun. En boonop gebeur dit gewoonlik lynreg teen die daaglikse vloei van ’n dag op ’n plaas.

Daar is ’n aanname dat alle personeellede toegang het tot bankstate, wat nie altyd die geval is nie. Daarom moet die werkgewer duidelik uiteensit hoe personeel vergoed word. ’n Salarisstrokie of ’n loneprogram is dus die basiese begin van ’n goeie kommunikasiedokument.

Jy as werkgewer het beheer oor uitbetaling van lone en salarisse en geen beheer daarna nie. Dis waarom die werkgewer voor die tyd gedeeltes moet inbou vir ’n aftreefonds, verhogings wat in aftreefondse belê word, begrafnisdekking en ander spaarplanne.

Die menslike welsynskant is aan die nie-tasbare kant. Hier kan die werkgewer ’n omgewing op die plaas skep wat beter is as ander opsies daar buite. Vestig ’n plaasskool waar jy betrokke is. Wees bewus van plaaswerkers, hul kinders, ensovoorts. Skep dus ’n tipe van plaasbeursskema.

Onthou, opleiding kan ook ’n deel van vergoeding wees. By ons plaas sorg ons dat ’n paar werkers bestuurslisensies kry, wat ’n vorm van opleiding en bemagtiging is. Plaaswerk is nie ’n baie gesogte werk nie en baie personeel streef daarna om taxi- of trokbestuurders te word. So maak jy dit aantreklik vir hulle om te bly.

Weet dat jou plaaswerkers ook eksterne druk ervaar. Wees ondersteunend teenoor mekaar, veral as personeel ondersteunend teenoor die plaas en werkgewer is. Dit is partymaal ’n baie moeilike situasie, want deur die week word daar gebou aan ’n kultuur en naweke word dit afgebreek. Deur respekvol te kommunikeer en ’n veilige werksomgewing te skep, bewys jy die teendeel.

HIERDIE BRÛE LEI TOT SUKSESSE

Vrydenkendheid is jou as werkgewer se redding, want die kwessie is dat probleme nie na jou toe kom in voorgeskrewe vorms en in pakkies nie. Jy het personeel nodig wat alle probleme, hoe dit ookal vertoon, die hoof kan bied. Om dit te bereik, het jy mense nodig wat vrydenkend kan wees en probleme kan oplos sonder dat reëls hulle beperk. Om respekvolle verhoudings te hê, is krities. Indien alles mooi inmekaar weef, skep jy ’n spesifieke werkskultuur waar jy as werkgewer maklik kan in- en uitbeweeg sonder dat jy die tempo of kwaliteit van werksverrigting inboet.

Kommunikasie is ’n kardinale uitvloei. Probeer ’n oop kommunikasiekultuur skep. Gesels dag tot dag met jou voormanne in beheer en praat die dag deur. Ek verkies personeellede wat sê as hulle nie met my saamstem nie: “‘n Werker wat van jou verskil is die eerste teken van ’n werker wat regtig in sy werk belangstel.” Volgens Neels is ’n outokratiese bestuurstyl ook nie volhoubaar nie en gaan dit ook ’n beperking op jou groei plaas.

Personeellede se gedrag kan met prestasiebonusse beloon word. Hulle het gevind dat personeellede wat nie prestasiebonusse ontvang het nie, se netheid om die huis nie in orde was nie. Hierdie is dieselfde mense wat sukkel om jou toerusting op jou plaas op te pas. Daar moet na die tipe ingesteldheid van mense gekyk word. Die mens wat by jou werk, gaan ’n produk wees van wat vir jou belangrik is. Jou kultuur is net ’n voortsetting van dit waarvoor jy selekteer. So, kry ’n tipe van gemeenskaplikheid op jou plaas. Kultuur is dus slegs ’n voortsetting van jou eie voorkeure. ’n Ideale werksmag sal een wees wat selffunksionerend is, die werk goed verstaan en sake met die nodige erns opneem.

LAASTE RAAD AAN BOERE

As daar ’n stuk raad is wat ek kan gee, is dit konsekwentheid binne die wet. Dit wat vandag geld, moet môre geld en moet volgende jaar geld. Die waarheid is dat mense ook daarvan hou om ingelig rondom die reëls te wees. Tweedens, wees altyd bewus dat A-span spelers nie saam met B-span spelers werk nie - jy verloor altyd jou A-span speler. Die rede is dat hulle die gewig van die B-span spelers moet dra. Derdens, inkorporeer groeiende kommunikasie en respek vir mense. Raak gewoond daaraan om te vra: hoe gaan dit met jou kind? Dit is iets baie eenvoudigs wat jou niks kos nie. So bou jy ’n verhoudingsbrug uit niks. Dit alles in balans, skep ’n kultuur van wedersydse respek waar die werk kan aangaan.