Geelmasjiene maak paaie gelyk vir Senwes produsente

  • 25 March 2022
  • 1090
  • nuus



So gesels Willie Marais, ʼn produsent in die Henneman-omgewing nadat Senwes ʼn tyd gelede die toegangsroetes na die Henneman silo gelyk geskraap het as deel van ʼn inisiatief om die grootskaalse agteruitgang van die plattelandse infrastruktuur aan te spreek.

Hierdie inisiatief het onlangs verder stukrag gekry toe Senwes Grainlink in samewerking met Senwes Equipment ʼn tweede geelmasjien (soos wat daar na die John Deere-konstruksievoertuie verwys word) aangekoop het om padinfrastruktuur, met spesifieke verwysing na die toegangspaaie na silo’s, op te gradeer. Hierdie inisiatief, wat deel uitmaak van die AVC Relief Umbrella-noodlenigingsprojek, is in Desember 2021 geloods, toe ʼn eerste geelmasjien vir dié doeleindes aangekoop is.

Tydens die bekendstelling van die inisiatief in Bultfontein, het Pieter Malan, uitvoerende bestuurder: Grainlink Bedryf, dit onomwonde gestel dat Senwes daartoe verbind is om terug te ploeg in die verskillende gemeenskappe waarin die agri-besigheid sake doen, terwyl hy ook die waarde van vennootskappe beklemtoon het. Laasgenoemde verwys na die wedersydse verhouding wat daar tussen die plaaslike boereverenigings en Senwes bestaan.

Malan verduidelik voorts dat Senwes Grainlink in vennootskap met Senwes Equipment hierdie twee geelmasjiene aangeskaf het om te verseker dat produsente voortaan sonder moeite hul graan by Senwes Grainlink silo’s kan lewer. Op die koop toe is die dienste van twee ervare padskraperoperateurs bekom om met dié belangrike instandhoudingwerk te help.

“Ons vra dat boereverenigings en studiegroepe binne die Senwes diensvoetspoor met ons skakel om te sien hoe ons hande kan vat om die padinfrastruktuur te verbeter,” sê Malan en voeg by dat samewerking die sleutel tot sukses is.

Vir meer inligting oor dié inisiatief, kontak jou naaste Senwes Grainlink silobestuurder of stuur ʼn e-pos aan Pieter.malan@senwes.co.za of Charmaine.vandeventer@senwes.co.za.