Pasop vir ondeurdagte opinies en besluite – Francois Strydom




Dit was die boodskap en pleidooi van Francois Strydom, Senwes Groep Hoof Uitvoerende Beampte, tydens Agri Noordwes se jaarkongres wat op 27 September in Klerksdorp aangebied is.

Volgens Strydom is dit nou, meer as ooit van te vore, belangrik dat Suid-Afrikaners getrou sal wees aan hul outentieke self, en dat hulle besluite sal maak en aksies sal uitvoer wat spreek van persoonlike integriteit, verantwoordbaarheid en impak.

Veranderinge in die wêreldorde

Die wêreld is voortdurend besig om te verander, en volgens Strydom het die gepaardgaande verandering in die wêreldorde, wat veral te weeg gebring is deur die koronaviruspandemie, ʼn direkte impak op besighede en die manier waarop besigheid gedoen word. Hierdie impak is ook te bespeur in die landbousektor.

“Die balansstaatverhouding van besighede het aansienlik verander en gaan nog verder verander,” meen Strydom en hy voeg by dat dit belangrik is dat produsente oopkop en realisties na uitdagings sal kyk omdat daar nie altyd ʼn bestaande verwysing is van hoe om die “nuwe normaal” te navigeer nie.

Strydom verduidelik voorts dat die toekoms nie iets is waarvoor daar gewag moet word nie, maar dat elkeen se individuele besluite en aksies ʼn bepalende impak op die toekoms het.

Moenie jou ore uitleen nie, deeglike analise is die antwoord

Alle besluite moet volgens Strydom geneem word op grond van deeglike analise, en nooit op aannames en hoorsê nie. Dit is voorts belangrik dat menings en opinies ten alle tye waarde sal toevoeg, en nie bloot ondeurdag geopper word nie.

“Ons moet tot die besef kom dat ander mense sien wat ons doen, en daarom het ons ʼn groot verantwoordelikheid om toe te sien dat ons aksies die gevolg is van behoorlike nadenke,” sê Strydom en voeg by dat dit gevaarlik is om slegs op die inligting te reageer wat via geselsgroepe en om braaivleisvure gedeel word.

Hy voeg by dat positiewe en realistiese nuus aangaande die sektor gekommunikeer moet word. Dit sluit onder meer in dat Suid-Afrika meer waarde uitvoer as wat binnelands gebruik word, dat landbou ʼn positiewe impak op die fiskus het en dat die sektor werkskepping stimuleer. Die belangrikste hiervan is dat die plaaslike landbousektor voldoende, veilige en bekostigbare voedsel en vesel vir die land genereer.