Plant gou maan landbouweerkundige




Só meen Johan van den Berg, ʼn onafhanklike landbouweerkundige.

Goeie neerslae het reeds voorgekom

Goeie neerslae het reeds plek-plek oor dele van die somerreënstreek begin uitsak, en dele van Mpumalanga kan tot einde Oktober nog sowat 30 mm reën ontvang.

Enkele tot verspreide reënbuie het die afgelope week, maar veral oor die naweek van 22 tot 23 Oktober, oor die somerreënstreek begin voorkom. Die distrikte waar van die meeste reën die afgelope week gemeet is, sluit in Klerksdorp (tot 100 mm), Ermelo (48 mm), Wepener (42 mm), Fort Beaufort (33 mm), Margate (32 mm), Reitz (30 mm), Komani (24 mm) en Cradock (22 mm).

Volgens Van den Berg het dié neerslae baie geïsoleerd voorgekom, maar dit was in baie gevalle voldoende om in veral die oostelike produksiegebiede te begin plant, aangesien die ondergrond voldoende water het en slegs die boonste 20 cm tot 30 cm van die grond droog is.

Raad vir produsente

Volgens Van den Berg moet somergraanboere in die oostelike produksiegebiede verkieslik voor middel November hul aanplantings probeer afhandel om te verseker dat die groeiseisoen lank genoeg is en die aantal hitte-eenhede vir gewasse voldoende is.

Hy verduidelik voorts dat daar nog byna twee maande se planttyd oor is in die westelike graanproduksiegebiede. Hierdie gebiede sluit die westelike dele van die Vrystaat en Noordwes in. Met verwagte bogemiddelde reënval in veral Desember en Januarie kan toestande vinnig te nat word en sal ietwat vroeër aanplantings vanjaar raadsaam wees op veral baie nat grond.

Die verwagte verswakking van die La Niña-stelsel vanaf Januarie kan volgens Van den Berg droër toestande vanaf Februarie veroorsaak. In die lig hiervan sal te laat aanplantings dalk droogteskade kry, veral in grond wat ʼn swak waterhouvermoë het.

* Die artikel het oorspronklik op Landbou.com verskyn.