Senwes vier 111 jaar van waardetoevoeging

  • 04 September 2020
  • 2048
  • nuus



In ‘n onlangse mediaonderhoud vertel Francois Strydom, Senwes se Hoof Uitvoerende Beampte, dat dié ingesteldheid op waardetoevoeging ast’ware die hoeksteen van die groep se besigheidstrategie is. “Om ‘n verskil in mense se lewe te maak, is die hoogste prioriteit,” sê Strydom.

‘n Droom en ‘n rit te perd
Francois vertel dat dit alles vir die maatskappy begin het met die droom van ‘n groep mense met “ongelooflike visie” in die vroeë 1900’s. Op daardie stadium moes dié denkers nog boonop ver afstande te perd aflê om boere byeen te bring vir die stigting van die destydse Centraal Westelijke Co-Operatieve Landbouw Vereniging.

Gegewe die verloop van die geskiedenis en die talle uitdagings wat die hoof gebied moes word, meen Francois dat hierdie visie en deursettingsvermoë getuienis lewer van die veerkragtigheid en aanpasbaarheid van Suid-Afrikaners, en meer nog, van die georganiseerde landbousektor. 

Almal het ‘n rol om te speel
Volgens Francois kan die sukses van die Senwes-groep nie toegeskryf word aan enkele individue nie, maar eerder aan die volgehoue insette en samewerking van almal binne die groep. Dit sluit personeel, besigheidsvennote, klante, aandeelhouers en die groter landbougemeenskap in.