Sitruskwekersvereniging waarsku teen opeenhopings by KZN hawe




Dié versoek is gemaak na afloop van die gewelddadige protesaksie wat die afgelope week wydverspreid in die provinsie voorgekom het. Die protesaksie het groot ontwrigting tot gevolg gehad en die N3, een van Suid-Afrika se belangrikste vragvervoerroetes, was gevolglik vir etlike dae gesluit.

Volgens Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die vereniging, word daar daagliks met rolspelers vergader om presies vas te stel wat die situasie op grondvlak is. Insette word onder meer deur Transnet, vraghouerdepots, vervoermaatskappye en skeepsmaatskappye gelewer ten einde ʼn geheelbeeld te kry.

In die vereniging se mees onlangse nuusbrief waarsku Chadwick sitruskwekers dat die situasie in KwaZulu-Natal steeds hoogs plofbaar en baie onvoorspelbaar is. Die N3 is verlede week weer vir verkeer oopgestel, maar die vereniging maan sy lede om steeds waaksaam te wees.

Bedrywighede stadig en onder streng veiligheidsvoorwaardes hervat

Talle kwekers en vervoermaatskappye het reeds vragte na Durban gestuur en heelwat van hierdie vrugte moet nog weggewerk word.

Volgens Chadwick gaan dit tyd neem om dié vrugte te verwerk wanneer die verwerkingsfasiliteite weer soos gewoonlik begin funksioneer. “Menselewens is die eerste prioriteit en geen haweterminaal, kouestoorplek, vraghouerdepot of hawevragryer gaan sy personeel in die gevaar stel nie,” sê Chadwick en voeg by dat daar stelselmatig begin word om sommige bedrywighede onder streng veiligheidsvoorwaardes te hervat.

“Indien moontlik, hou vir ʼn tydperk, dalk ʼn week, op oes en verstadig die verkappingstempo,” raai Chadwick sitruskwekers aan en voeg by dat indien almal in die bedryf saamwerk, opeenhopings by die hawe uitgeskakel kan word.

Impak van gewelddadige protesaksie

Chadwick is van mening dat die gewelddadige protesaksie verskeie gevolge het waarvan baie eers later na vore gaan kom.

Hy sê die vereniging is bewus van onder meer ʼn chemiese depot wat afgebrand is en hy het ʼn beroep op produsente gedoen om by hul verskaffers seker te maak dat daar genoegsame voorraad is om voorbereidings vir volgende jaar se oes te tref.

Vertragings kan moontlik ook in die vervaardiging van bokse ervaar word.

* Samesprekings word intussen gevoer om alternatiewe hawens vir vrugteuitvoere te oorweeg.